Die ongelukstoneel Sondag (22 Junie) op die N1-snelweg naby die Ceciliaweg-afrit in die Paarl. Foto: Verskaf

‘n 27-jarige vrou, vermoedelik van Belhar, is die afgelope Sondag (22 Junie) deur ‘n verbygaande voertuig op die N1-snelweg in die Paarl dood- gery kort nadat die voertuig waarin sy gery het, teen aankomende verkeer gebots het.

Die voorval het omstreeks 17:20 op die N1-snelweg naby die Ceciliaweg-afrit in die Paarl plaasgevind.

Volgens kapt. Louise du Plessis, ‘n woordvoerder vir die Paarl-polisie, was die oorledene en twee ander insittendes in die rigting van Kaapstad onderweg toe die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het.

“Hul Toyota Urban Cruiser het toe teen ‘n Ford Eco Sport in die aankomende verkeer gebots.

“Die oorledene is deur ‘n verbygaande voertuig getref toe sy uit die Cruiser geklim het.

“Sy is op die toneel dood verklaar,” het Du Plessis gesê.

Volgens Du Plessis is die ander twee insittendes van die Cruiser met beserings in die hospitaal opgeneem.

Sy sê die oorledene is Maandag (23 Junie) deur familielede uitgeken.

Die Paarl-polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.

You need to be Logged In to leave a comment.