Chantélle Hartebeest

Ten spyte van die feit dat sy lewe handomkeer verander het, is konst, Ahzerian (Aziz) Esterhuizen vasbeslote om steeds met trots as ‘n polisiebeampte te dien, maar hy het ook die hulp van die gemeenskap nodig.

Twee jaar gelede, op 26 Februarie 2023, het hy oudergewoonte reggemaak voordat hy by die Moorreesburg-polisiekantoor, waar hy destyds gewerk het, vir diens aangemeld het.

Esterhuizen vertel hy en sy kollegas het toe die N7 gepatrolleer en ‘n bestuurder opgemerk wat roekeloos ry.

“Ons het die voertuig agtervolg met sirenes aan, maar die voertuig het steeds nie stilgehou nie. Ons het die Malmesbury-polisie gekontak vir bystand en toe het my kollega wat bestuur het, beheer oor die polisievoertuig verloor. Die voertuig het ‘n ligpaal getref en dit het gerol. Ons was drie mense in die voertuig.”

Die ongeluk het Esterhuizen verlam gelaat.

Konst Ahzerian (Aziz) Esterhuizen voor die motorongeluk wat hom verlam gelaat het.

Die 30-jarige Esterhuizen vertel die ongeluk het ‘n hewige invloed op sy lewe gehad – nie net fisiek nie, maar ook emosioneel.

“Dit was moeilik en dit is nou nog moeilik. Ek was lief om in die veld te werk. Ek het ‘n passie gehad vir my werk, en is al benoem as Polisieman van die Jaar, asook twee keer vir ‘Vangs’ van die Jaar. Dit is tot vandag toe moeilik [vir my ná die ongeluk]. Ek sal sê ek het vrede gemaak met my situasie, maar daar is ‘n deel van my wat nog daar buite wil werk.”

Vandag werk Aziz, wat sy arms en sy hande effens kan gebruik, by die Paarl-Oos-polisie in die administrasie-afdeling. Aangesien die plaaslike polisiekantoor rolstoelvriendelik is, is hy hierheen verplaas.

As ek geweet het dit is hoe die polisie my gaan behandel sou ek nooit die ekstra myl gestap het as ‘n beampte.

Ironies genoeg woon hy en sy meisie, Michealla Kayster (32), al sowat ses jaar reeds in die Paarl en het Esterhuizen meer as een keer aansoek gedoen om verplasing nader aan die huis, maar dit was altyd onsuksesvol.

Hy samel nou saam met ‘n plaaslike gemeenskapswerker van Moorreesburg, Ghida Visser, geld in. Die geld sal gebruik word om vir sessies by ‘n biokinetikus te betaal, wat spesialiseer in sy soort beserings met die doel om meer onafhanklik te raak. Sy siekefonds dek egter nie die kostes van die sessies wat Aziz benodig nie.

“Omdat ek aandiens beseer is, is die polisie veronderstel om te betaal, maar ek moes fisioterapie ook stop omdat die polisie vir sowat 20 sessies nog nie betaal het nie. Toe ek in die hospitaal was het tot beamptes wat ek nie ken nie vir my besoek en nou is ek vergete.

“Die kostes is teveel vir my om uit my eie sak te dek, want ek het ook twee versorgers wat vir my assisteer vir wie ek moet betaal. As ek geweet het dit is hoe die polisie my gaan behandel sou ek nooit die ekstra myl gestap het as ‘n beampte. Ek voel vir hulle beteken ek nou niks meer vir die diens.”

Vir die rede reik Aziz uit na die gemeenskap. Elke skenking, maak nie saak hoe klein of groot nie, word waardeer.

• Kontak Ghida Visser by 073 044 5552 vir bankbesonderhede.

You need to be Logged In to leave a comment.