Sy is net 12 jaar oud en die Paarlse pianis Olivia Malan maak reeds opslae as ’n finalis van ’n nasionale musiekkompetisie.

Vanuit al die oudisies vir die Hubert van der Spuy- nasionale musiekkompetisie wat plaasgevind het, is dié meisie onlangs uitgewys as een van 22 finaliste van die Wes-Kaap wat om die wentitel sal meeding. Volgens Olivia is dit die eerste keer dat sy vir dié kompetisie kwalifiseer en daaraan deelneem.

“Ek is opgewonde, trots en nogal senuweeagtig as ek dink aan die Hubert van der Spuy- kompetisie wat voorlê, en ek dink dit gaan ’n wonderlike ervaring wees.

“Ek dink ek kan dalk die kompetisie wen as ek hard oefen, my beste gee en elke oomblik daarvan geniet.

“Ek sien uit na hierdie geleentheid om klavier te speel vir ’n program met sulke hoë standaarde. Ek is ook opgewonde om die ander deelnemers te sien speel en by hulle te leer.”

Olivia vertel sy het in Januarie 2019 begin met klavierlesse en sy speel sedertdien vir die afgelope vyf en ’n half jaar sonder ophou.

“Ek hou baie van klavier speel, want ek voel om klavier te speel maak alles beter. Dit is ook my manier om van oorweldigende emosies ontslae te raak. Daar is iets betowerend daaraan om uit te stap op ’n verhoog en jou klavierspel met passie te deel.

“As ek klavier speel voel dit asof ek al my gevoelens tot in die note stoot, en as ek in ’n uitvoering ’n fout maak kom selfs ek dit gewoonlik nie eens agter nie.

“Ek leef heeltemal in die oomblik, in plaas daarvan om bang te wees vir wat volgende kom.”

Buiten die klavier neem Olivia ook lesse om die tjello te kan speel. Sy het voorheen ook lesse geneem vir die dromme en ukulele.

Yolandé Malan beskryf haar dogter as ’n vriendelike en saggeaarde mens.

“Olivia is nie bang vir uitdagings nie. Sy gee altyd 100% in alles wat sy doen. Sy sien kans vir enigiets en word nie sommer ontmoedig deur ’n moeilike opdrag nie.

“Ons noem haar soms Olivia ‘Plannetjies’ Malan, want sy het altyd vir alles ’n oplossing. Sy is baie kreatief en kan haarself besig hou met allerhande projekte. Sy is alewig besig om iets te maak of te skep.”

Malan vertel dat haar Olivia, ’n graad 6-leerder aan Green School, ook ’n balletdanser is wat in ’n paar vertonings opgetree het.

“Sy het al drie keer in die Kunstekaap aan verskillende balletopvoerings deelgeneem. Dit is A Christmas Carol, Romeo and Juliet en The Nutcracker.

“Ballet is ’n ander groot liefde waarmee sy haar graag besig hou en sy is ’n kranige swemmer. Sy hou ook baie van lees en ons as ’n gesin stap graag. Haar stokperdjies is naaldwerk en om kuns te doen.”

Malan sê sy en die res van die familie sien daarna uit om vir Olivia te ondersteun in die kompetisie. Voorheen, in 2022, het sy die Shane Goodall Junior Klavier-toekenning ontvang by die Hugo Lambrechts Musiekskool, en in 2023 het sy die prys vir beste junior musiekleerling by Hugo Lambrechts gewen.

“Olivia het Unisa graad 2 en 3 [klavier- eksamens] in een jaar gespeel. Ek is trots op haar en ek is saam met haar opgewonde om te kan deelneem.

“Ek dink dit gaan ’n wonderlike ervaring wees en dit is ’n groot voorreg om te kan deelneem aan die Hubert van der Spuy-kompetisie.

“Ek sê gereeld vir haar hoe wonderlik dit is dat sy vir ons na sulke lekker plekke soos Kunstekaap en musiek- uitvoerings neem en so ons wêreld vergroot.”

You need to be Logged In to leave a comment.