Die Toit-gesin. Van links is Chevon du Toit (30; Berto se vrou), Berto du Toit jr, (2; Berto se seun) en Berto du Toit (30). Foto: Chevon du Toit/ Facebook

“Hy was ‘n goeie pappa, man en vriend, en hy was altyd bereid om vir almal te help.”

Só het Chevon du Toit (30), Berto se vrou, hom beskryf nadat hy die afgelope Maandagoggend (2 Junie) in ‘n kop-aan-kop botsing op die R44 tussen Wellington en Hermon dood is.

Volgens Chevon was Berto oppad vanaf Wellington in Hermon se rigting om ‘n operateur wat vir hom gewerk het, op te tel.

Voordat die operateur immers opgetel was, het die noodlottige ongeluk plaasgevind.

Volgens kol. Johan Barkhuizen, woordvoerder van die Wellington-polisie, het die ongeluk omstreeks 07:00 plaasgevind.

“Die twee voertuie het mekaar reg van voor getref. ‘n 30-jarige man is deur paramedici op die toneel dood verklaar.”

“Nog ‘n insittende (‘n vrou) is ook beseer,” het Barkhuizen gesê.

‘n Strafbare manslag-ondersoek is deur die Wellington-polisie geopen.

LEES OOK: Man (30) dood, vrou beseer in botsing buite Wellington op R44

Berto het ten tyde sy dood reeds vir twee jaar ‘n grondverskuiwingsbesigheid besit genaamd Berto & Seun Diggers.

Volgens Chevon het ‘n vrou, wat vermoedelik ‘n Kia Picanto bestuur het, ‘n vragmotor verbygesteek en in die aankomende baan beland, waarin Berto gery het, waarna die vrou in sy bakkie vasgery het.

Chevon sê sy vermoed dat die vrou nie Berto se bakkie gesien het nie.

“Dit [die ongeluk] is ‘n bitter pil om te sluk,” het Chevon gesê.

Sy het verduidelik dat dit moeilik is om te aanvaar dat die bestuurder van die Kia Picanto nie ernstige beserings opgedoen het nie, terwyl Berto, ‘n gesinsman, dood is.

Chevon en Berto sou volgende naweek drie jaar getroud wees.

Hulle het een seuntjie (2) met die naam Berto du Toit jr, en is ook ses maande swanger met nog ‘n seuntjie.

Berto du Toit (30) en sy vrou, Chevon du Toit (30). Foto: Chevon du Toit/ Facebook

Die egpaar het vyf jaar gelede ontmoet toe Berto by Chevon se ouers se huis aangeklop het saam met vriende.

“Ek het altyd gesê ek gaan nie ‘n man trou voordat hy nie by my ouers se voordeur instap nie,” het Chevon vertel.

Dít is toe juis wat Berto vanuit die staanspoor gedoen het toe hy saam met sy vriende by sy aanstaande skoonouers se huis aangeklop het.

Daarna was die koeël deur die kerk, en het “kuiers saam met vriende alleen-kuiers geword en alleen-kuiers getroude lewe,” het Chevon vertel.

Berto is afkomstig van Wellington en het in 2013 aan die Hoër Landbouskool Boland gematrikuleer.

Sy pa, Berto du Toit sr, is bekend onder die Wellington-gemeenskap waar hy Berto du Toit (BDT) Vervoer, ‘n vervoermaatskappy, besit wat, onder andere, lewendehawe, vervoer.

Berto du Toit sr se vrou, en Berto se ma, Sonja-Jean du Toit, is ongeveer ‘n jaar en ‘n half gelede ook oorlede.

Die Boland Landbou Ondersteuners Bond skryf op hul Facebook-blad: “Die Boland Landbou familie betreur vandag die skielike afsterwe van Berto du Toit matriek 2013. Ons harte gaan uit na sy vrou Chevon, klein Berto, familie en klasmaats in hierdie tyd. Pa Berto (matriek 1987) ons dink ook aan jou vandag wat ‘n seun verloor het. Mag ons Hemelse Vader elkeen wat seer het, vertroos met Sy liefde, genade en vrede.”

You need to be Logged In to leave a comment.