‘n Jong pa en kranige rugbyspeler van Gouda is verlede week skielik oorlede.

Tristan Magalie se skielike dood laat ‘n groot verlies vir sy familie, vertel die 23-jarige se peetpa, Gavin Lakay.

“Sy dood het ‘n groot invloed op die familie omdat Tristan almal se liefling was. Hy was ‘n uitstaande sportman en ‘n ware mense-mens; ‘n oumakind.

Hy was ‘n liefdevolle mannetjie en was daar vir almal en ek dink sy dood raak almal, veral sy boeta (ouer broer), Angio, wat baie trots was op hom. Hy was ‘n spontane jongman en almal was mal oor hom en almal was lief vir hom.”

Magalie is verlede Sondag (20 April) dood nadat hy skielik pyn in sy maag en bene ervaar het, vertel Lakay. Hy is na die Porterville-hospitaal geneem, maar kort daarna na die Paarl-hospitaal oorgeplaas.

“Ek dink Tristan het in die familie self ‘n baie groot rol gespeel. Hy het nooit embarassment huis toe gebring nie. Ek is net jammer dat dit met hom moes gebeur het, want hy was gebroke, want sowat ses weke gelede het hy en sy meisie (Kirushnie Jacobs) hul babadogtertjie aan die dood afgestaan, en dit het hom gebreek. Ek kan net wonder wat alles deur sy gedagtes gegaan het.”

‘n Lykskouing is gehou om die oorsaak van Magalie se dood vas te stel.

Tristan Magalie

Sy gebroke ma, Letessa Magalie, sê hulle wag nog vir die uitslag.

Magalie was ‘n lid van die Temperance-rugbyklub in Gouda en was toegewyd aan die sport en sy span.

Volgens Lakay het Magalie met trots vir sy span uitgedraf.

“Hy het so uitgesien na die jaar, want in 2023 en 2024 is hy as die beste agterspeler van die rugbyklub aangewys.

“Hierdie jaar, het hy vir hulle gesê, wil hy beter vaar en hy het gemik na die Sportman van die Jaar-toekenning.

Verder het hy altyd werk toe gegaan en naweke het hy en sy vriende bymekaar- gekom en oor die sport en so aan gesels.”

Magalie laat ook ‘n dogtertjie uit ‘n vorige verhouding agter.

Hy word Sondag (4 Mei) ter ruste gelê.

You need to be Logged In to leave a comment.