Die 2024- Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK) huldig die stigter van die kompetisie, wyle Michael Maas, wat 14 Maart 2023 oorlede is. Die totale prysgeld is ook tot R180 000 verhoog.
Die 40 jaar oue kompetisie vir klassieke musici tussen die ouderdomme van 14 en 19 jaar sal van 2 tot 7 Desember 2024 by die Endler-saal, Konservatorium-gebou, Victoriastraat, Stellenbosch, beslis word.
Die NJMK word in samewerking met die Universiteit Stellenbosch se musiekdepartement aangebied.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 28 Junie 2024.
Slegs 25 kandidate sal ná oudisies gekies word. Deelnemers sal teen 22 Julie 2024 van die uitslag verwittig word. Die weeklange kompetisie word oor vier rondes en in vyf kategorieë beoordeel, naamlik klavier, strykinstrumente, houtblaasinstrumente, koperblaasinstrumente en ander orkesinstrumente (soos harp, slagwerk, marimba, xilofoon, ens.).
Elke suksesvolle deelnemer moet ’n wye repertorium van sy/haar eie keuse voorberei. Dit moet verskillende stylperiodes en Suid-Afrikaanse komposisies, soos in die kompetisiebrosjure aangedui, insluit. Alle deelnemers sal in die eerste twee rondes speel. Daarna sal 12 semifinaliste in die derde ronde (halfeindronde) speel om die voorste ses musici aan te wys.
Die leidende ses deelnemers sal dan om die goue medalje en die Michael Maas-huldigingsprys van R36 000 sake uitspook.
Hulle word begelei deur die Kaapstadse filharmoniese orkes. Dit is die enigste kompetisie in Suid-Afrika waar die ses finaliste met ’n volle simfonieorkes om die louere meeding.
. Besoek NJMK se webblad by www.nymc.co.za vir toelatingsvereistes, reëls en die registrasievorm vir die 2024 kompetisie.