Van links is Ceejay Johannes, Javian Adams, Sylvia Bell van ’n plaaslike voedingskema, Igshaan Arendse, Fagan Arries en Xavier Ross.Foto: Verskaf


’n Jong musiekgroep van die Lamotte-bosbougemeenskap in Franschhoek het oor die Paasnaweek inwoners se harte gesteel toe hulle in samewerking met die plaaslike voedingskema Paaseiers in die gemeenskap uitgedeel het.

Die groep, bekend as Ten Tripple One, sê dit is een van die vele wyses waarop hulle in die gemeenskap wil terugploeg.

Charlenè Lukas, die groep se bestuurder, het vandeesweek aan Paarl Post gesê hulle is dankbaar dat een van die plaaslike voedingskemas hulle genader het om by die inisiatief betrokke te raak.

“Sylvia Bell van die voedingskema het die groepie betrek en natuurlik het ons dadelik ingestem omdat die gemeenskap al so baie vir ons as ’n groep gedoen het.

“Hulle het aan elke deur gaan klop om seker te maak soveel inwoners as moontlik kry ’n bederfie. Dit was wonderlik om die blydskap op veral die bejaardes se gesigte te sien.

“Een van die lede, Fagan Arries, het gesê van alles wat ons hierdie jaar gedoen en bereik het, was hierdie vir hom ’n hoogtepunt. Hy sê dit het sy hart warm gemaak om op dié wyse vrolikheid aan inwoners te bring,” het Lukas as Paarl Post gesê.

Sy vertel dat die groep in Januarie vanjaar gestig is.

Die groep het in dié kort tydjie reeds drie liedjies en twee musiekvideo’s vrygestel.

“In alles wat ons doen, onthou ons waar die grondslag van hierdie groep gelê is – in hierdie gemeenskap. Al twee musiekvideo’s is hier in Lamotte opgeneem en ons het seker gemaak ons betrek die dorp se inwoners daarby.

“Daar is dan ook dele van die een video wat in die Paarl en by die Waterfront in Kaapstad geneem is.

“Die deel by die Waterfront is geneem kort nadat hulle ’n oudisie vir ’n gewilde kompetisie in die streek bygewoon het.”

Thailin Johannes, ook ’n lid van die groep, staan met een van die kindertjies wat met ’n paaseier bederf is.Foto: Verskaf

Lukas sê die groep maak ’n verskeidenheid musiek.

“Ons fokus nie op ’n spesifieke genre nie, juis omdat ons wil hê dat almal aanklank moet vind by die musiek en dit wat in ons musiekvideo’s uitgebeeld word,” het sy verduidelik.

Die groep bestaan uit altesaam 10 lede, van wie slegs een ’n meisie is.

Hulle kan by 082 207 2344 bereik word.

You need to be Logged In to leave a comment.