Die lewe van die 23-jarige Canzen Jayden Fortuin van die Paarl is in ’n oogwink kortgeknip toe hy die afgelope naweek in Simfonielaan, Groenheuwel, doodgesteek is .
Sy gebroke ma, Juandri de Villiers, vertel sy was op die toneel nog voordat die nooddienste gearriveer het.
Saterdag (24 Junie) was soos ’n doodgewone dag. De Villiers onthou sy het nog vir haar seun ’n broodjie ingepak voor werk, maar ure daarna het haar lewe heeltemal verander toe sy haar seun se lewelose liggaam vasgehou het.
De Villiers, wat ook ’n opgeleide polisiebeampte is, sê die verdagte is dieselfde aand in hegtenis geneem. Volgens haar het die verdagte na bewering by twee geleenthede vir Fortuin gaan dreig by die winkel waar hy gewerk het. De Villiers sê by een van die geleenthede was haar seun nie by die werk nie, maar ’n familielid saam met wie hy gewerk het, het haar in kennis gestel dat die verdagte glo toe al gedreig het om Fortuin se lewe te neem.
“Ek het vir Canzen gevra of hy die persoon ken. Hy het toe vir my ’n foto aangestuur en ek het dit vir die familielid aangestuur, wat toe bevestig het dit is dieselfde persoon. Ek het nou al ’n tydjie geweet dat die outjie agter my seun aan is. Hulle sê die insident het eintlik gegaan oor die meisie wat my seun gehad het, want die verdagte het na bewering mos op ’n vorige keer vir hom gewaarsku om weg te bly van die meisie af.
“Ongelukkig, soos sy (Fortuin se) vriende sê, was hulle saam en toe het my seun gesê hy gaan gou iewers heen. Hulle het toe vir hom gesê om eerder saam met hulle te gaan, maar hy het gevoel hy wil na die meisie toe gaan. Hy en die meisie het na bewering buite gesit toe die ander outjie daar aangekom het.
“Die outjie het toe die meisie aangerand en my seun het probeer keer en hulle twee het toe begin stoei. Hy is op drie plekke met ’n skêr gesteek.”
Die voorval het nie ver van hul woning gebeur nie. De Villiers sê sy en haar man het gehoor hoe Fortuin se vriende aangehardloop kom en skree.
“My man het net vir my gesê dat hulle sê Canzen haal nie asem nie. Dit was toe nog net die huismense wat buite gestaan het waar hy inmekaargesak het.”
De Villiers bars in trane uit: “Daai prentjie speel nou heeltyd voor my af as ek my oë toemaak of as ek net daaraan dink. Ek voel my kind het dit nie verdien nie. Ek kan nie sê hoe hy buite die huis was nie, maar oor die algemeen as jy hoor hoe almal van hom praat was hy net ’n sagte mens en glad nie bakleierig nie. Net die sight hoe my kind kaal bolyf gelê het, was nie iets mooi om te sien nie. In daai stadium was sy oë nog oop en ek onthou nog by sy regteroog het ’n traan uitgeloop.”
Fortuin se dood kom nie lank nadat sy ouma ook afgesterf het nie, en dit is ’n groot slag vir die familie.
“Die gemis gaan regtig groot wees hier by ons in die huis. My dogtertjie wil nie eens huis toe kom nie. Sy is tans by haar ander ouma.”
Volgens De Villiers het die verdagte se familie besoek by haar afgelê om verskoning te vra vir wat hy gedoen het.“Ek het vir hulle gesê dat ons nie ons kinders so grootmaak nie. So, ek kan nie vir hulle sê dat ek vir hulle in my hart dra nie. Ek verstaan sy ma kom probeer nou vergifnis vra namens hom, maar hy gaan nooit vir Canzen vergeet oor wat hy gedoen het nie.”
Die verdagte het vandeesweek reeds in die Paarl-landdroshof verskyn.
Sy volgende hofverskyning is op 10 Julie.