Die 17-jarige Hezron Frieslaar is die jongste speler wat al die Wellington-gholfklub se senior klubkampioenskap gewen het.


Party mense weet al van kindsbeen af waarvoor hulle op aarde is, en die 17-jarige Wellingtonse gholfspeler Hezron Frieslaar is ’n goeie voorbeeld van só ’n gedrewe jong mens.

Dié matriek-leerling aan die Hugenote Hoërskool maak opspraak in plaaslike en nasionale gholfkringe met menige titel agter sy naam.

Hezron het op 16 November 2019 amptelik die jongste speler geword wat al die Wellington-gholfklub se senior klubkampioenskap gewen het. Hy het dié toernooi met ’n telling gelyk aan die baansyfer gewen.

Hy gaan in die Junie-skoolvakansie in Skotland speel as deel van ’n inisiatief deur die Suid-Afrikaanse gholf-ontwikkelingsraad (SAGDB). Die organisasie sonder winsbejag het verskeie afrigters en vrywilligers wat met sowat 17 000 jong gholfspelers werk om hul potensiaal in dié sport te behaal sonder om hulle oor die hewige finansiële druk wat dit kan inhou, te bekommer.

Hezron vertel sy belowende gholfloopbaan het al op agtjarige ouderdom begin. Sy oupa, Tony de Vries, was jare by die Wellington-gholfklub in diens en hy het as jong seun met ’n speelding-setyster saam met sy pa op ’n gholfkarretjie rondgery vir instandhoudingswerk. Hezron erken hy ken dié baan soos die palm van sy hand. Sy oupa is in 2018 in die ouderdom van 63 aan longkanker dood.

Hezron het nie planne om volgende jaar te gaan studeer nie en sal veel eerder sy kanse waag om ’n professionele gholfspeler te word. Hy probeer om soveel as moontlik te oefen, maar erken sy matriekjaar se werkslading is straf en dit moet nou noodgedwonge van sy aandag kry. As plan B, sê hy, sal hy graag ’n loopbaan as ’n gholfbaanbestuurder wil volg.

Sy raad aan jonger leerders wat nou begin speel, is om na hul afrigters te luister. “Luister wat gesê word en oefen so hard as moontlik, want dit is hoe jy ’n professionele speler word,” sê die vasberade tiener. • Some people discover their purpose early in childhood, and teenage golfer Hezron Frieslaar from Wellington is a perfect example of such a driven young person. At the age of 17 he became the youngest player ever to win the Wellington Golf Club’s senior club championship.

You need to be Logged In to leave a comment.