’n Leerder aan Hugenote Laerskool het onlangs as ’n meester-skubaduiker gekwalifiseer, wat hom waarskynlik die jongste meester- skubaduiker in die land maak.
Luke Cockrell, ’n gr. 7-leerder van Wellington, is letterlik soos ’n vis in die water.
Dié klein webvoet het sy oopwater-kursus op slegs 10-jarige ouderdom voltooi. Hierna wou hy so vinnig as moontlik by meester-skubaduiker uitkom, maar hiervoor moes hy wag totdat hy eers die ouderdom van 12 bereik voordat hy kon kwalifiseer.
Hy het wel met al die nodige kursusse begin, wat hy reeds op 10 en 11 jaar oud kon doen.
Die moeilikste hiervan was die reddingsduiker-kursus. Dit was vir hom die lekkerste en mees uitdagende kursus, vertel Luke se pa, Ross, ’n gesoute skubaduiker wat hierdie kursus vantevore voltooi het. Hy weet dit is ’n baie interessante en uitdagende kursus.
Maar Luke is suksesvol hierdeur en het al vyf die spesialiteitskursusse voltooi om as meester-skubaduiker te kwalifiseer – alles danksy sy bekwame instrukteurs van Garden Route Scuba Mosselbaai, Reel van der Merwe en Aidun Munn.
Luke hou ook nie daar op nie en is vasbeslote om op 15 jaar sy Divemaster- kursus te voltooi.
As hy hierdie kursus voltooi, sal hy ook die jongste in die land wees om dié titel te kry, maar hy kan dit ingevolge die Professional Association of Diving Instructors (Padi) eers op 15-jarige ouderdom doen.
Dit is die jong paddavoet se droom om eendag ’n Padi-instrukteur te wees en Luke wil ook eendag marienebiologie studeer om meer van die seelewe te verstaan en om te help met die “save the ocean”-projek.
Dié jong sportgeesdriftige neem ook aan rugby, swem en krieket deel, maar sy groot passie is die seelewe en as die geleentheid hom voordoen, wil hy by die see wees.
“Onder die water is dit ’n ander wêreld – daar is soveel om te sien; al die kleure en die seelewe. Dit is so mooi,” sê Luke.