Xavier Mitchell in aksie vir die Boland Kavaliers. Foto: Ernest Kilowan

Xavier Mitchell, die 24-jarige vleuel van die Boland Kavaliers, is besig om naam te maak in die Curriebeker-reeks – maar sy pad hierheen was alles behalwe maklik. Mitchell se rugbydroom het egter van boupersele tot drywer nooit uit sy hart verdwyn nie.

Mitchell, ‘n oudleerder aan die Laerskool William Lloyd- en die Hoërskool Klein Nederburg in die Paarl, het ná skool aanvanklik saam met sy oupa aan geboue gewerk. Daarna het hy as drywer by Talisman en Nissan gewerk. Maar in die agterkop het ‘n groter droom altyd geleef – om professioneel rugby te speel.

“Ek moes kies tussen ‘n veilige werk en my droom. Ek het met die ondersteuning van my meisie, Tarryn Andries, besluit om die sprong te waag toe die afrigter Franzel September my die kans by Boland gee,” sê hy.

Mitchell het op klubvlak naam gemaak met Roses United, waar hy hoofsaaklik as buitesenter gespeel het. Ná sy oorgang na Boland het die afrigter Hawies Fourie egter sy potensiaal as vleuel raakgesien.

Die skuif het ‘n nuwe dimensie aan sy spel gegee. “Op vleuel is jy meer op jouself aangewese – jy moet vinniger dink, hoë balle hanteer en jou verdediging slyp. Ek het hard gewerk aan my spoed en besluitneming,” verduidelik hy.

“Maar my hart bly by buitesenter – dis waar ek voel ek die spel beter verstaan en beheer kan uitoefen.”

Sy hoogtepunte sluit in ‘n Curriebeker-wedstryd teen die Lions, waar hy suksesvol alle afskoppe hanteer het – in ‘n posisie wat nie oorspronklik syne was nie. “Dit was ‘n persoonlike mylpaal. Ek kon wys ek dra waarde – selfs buite my gemaksone.”

Mitchell glo sy tyd by Roses United het die grondslag gelê vir sy huidige sukses. “Daar het ek geleer hoe spanwerk soos familie moet voel – dit berei jou voor vir die druk en tempo van provinsiale rugby.”

Hy kyk met ‘n sterk werksetiek en diepe geloof vorentoe met groot drome – insluitend om eendag die Springboktrui aan te trek. “Ek dra nie net my eie hoop nie – ek dra my familie se nalatenskap,” sê hy trots.

Mitchell se ma, Anthea, is die suster van die ontslape legendariese Chester Williams en verwant aan Avril Williams, albei voormalige Springbokke. Sy pa, Franklin, het in die WP-liga gespeel en sy oupa Wilfred Williams was in die 1980’s lid van die Proteas. “Met harde werk, fokus en God se genade, glo ek ek kan die Groen-en-Goud dra,” sê Mitchell.

En met sy toewyding en nederigheid is hy gewis ‘n naam om dop te hou.

You need to be Logged In to leave a comment.