Die Wellingtonner Johan van Zyl het by die onlangse Suid-Afrikaanse XCM-bergfietskompetisie in Pretoria die Suid-Afrikaanse titel in die afdeling vir junior mans gewen.
Hy het meer as ’n duisend ryers van alle ouderdomme geklop om ook die ope halfmarathon-titel te wen.
Die kompetisie is by Buffelsdrift naby Pretoria gehou.
Deelnemers aan die junior mans-afdeling moes ’n 40 km-halfmarathonroete voltooi.
Johan het die afstand in 1:31:34 gewen.
In die XCM-kompetisie spring deelnemers van alle ouderdomme in ’n bondel vir die halfmarathon weg.
In die kategorie vir junior mans was daar 86 deelnemers en algeheel was daar 1 035 ander fietsryers in die wegspring-bondel, wat Johan eindelik ook almal in die stof laat byt het.
Johan is ’n matriekleerling aan HTS Drostdy in Worcester en word deur Ben Caspostagno afgerig.
Hy het vroeër vanjaar ook, as lid van die Suid-Afrikaans fietsryspan, ’n tweede plek in die junior afdeling van die Afrika-bergfietskampioenskappe in Namibië behaal.
Sy volgende groot uitdaging was die Suid-Afrikaanse XCO-kampioenskappe op 20 Julie in Johannesburg.
Dit was dieselfde formaat as die kompetisie wat in die Olimpiese Spele beslis word.
Johan en die ander deelnemers in die junior mans-afdeling moes vyf rondes van 4,5 km elk baasraak.
Dit het kophou gekos toe dit kom by al die bulte en tegniese struikelblokke soos klippe, stompe en spronge.