Die Wellingtonse bergfietsryer Johan van Zyl se matriekjaar is een van vele hoogtepunte. Hy is pas ingesluit in die Suid-Afrikaanse junior span wat van 26 Augustus tot 1 September in Mont Sainte-Anne in Kanada aan die bergfietswêreldkampioenskap gaan deelneem.

Johan het verlede maand die afdeling vir junior mans by die Suid-Afrikaanse XCM-bergfietskompetisie in Pretoria gewen. Daarna was dié leerder van HTS Drostdy in Worcester tweede in die Suid-Afrikaanse XCO-kompetisie.

XCO is dieselfde formaat wat in die Olimpiese Spele beslis word, en behels vyf tegniese rondes van 4,5 kilometer elk vol uitdagings. Hy sal ook in hierdie bergfietsafdeling aan die Wêreldbyeenkoms deelneem.

Johan het vroeër vanjaar die eerste keer Suid-Afrikaanse kleure gekry toe hy in Namibië aan die Afrika-byeenkoms deelgeneem het, waar hy ’n silwer medalje gewen het.

’n Stokkie steek egter in Johan se speke. Die Suid-Afrikaanse ryers wat vir deelname in Kanada gekies is, is self vir al hul vlug- en reiskoste verantwoordelik. Fietsry Suid-Afrika lewer geen bydrae nie. . Belangstellendes wat wil help om Johan se deelname moontlik te maak, kan Gerrit van Zyl per e-pos by appel.vanzyl@irricheck.co.za kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.