’n Afrikaanse vertaling van die gratis aanlyn vervolgverhaal, Die Ickabog, deur JK Rowling, is van 1 September af gratis by www.ickabogkompetisie.co.za beskikbaar.

JK Rowling, skrywer van die Harry Potter-reeks, het Die Ickabog ’n dekade gelede as slaaptydstorie vir haar jonger kinders geskryf en het besluit om hierdie gesinsgunsteling te deel om kinders, ouers en versorgers tydens die bykans wêreldwye inperking weens die koronavirus te vermaak.

Die Ickabog is ’n sprokie wat in ’n denkbeeldige land afspeel. Dit is ’n nuwe verhaal en hou geen verband met die skrywer se ander werk nie. Die teikengehoor is kinders tussen 7 en 12, maar die hele gesin sal die storie geniet.

Die Afrikaanse verhaal word ook gratis aanlyn gepubliseer. Dit sal in November in boekvorm by Lapa-uitgewers verskyn.

Rowling sal al haar tantieme aan projekte skenk om groepe te help wat deur die Covid-19-pandemie benadeel word – in die Verenigde Koninkryk sowel as internasionaal.

Kinders word genooi om die storie te teken en hul kunswerk aan Lapa voor te lê.

Die beste tekeninge sal in die gedrukte boek opgeneem word.

Namate die verhaal ontvou, word ouers en voogde aangemoedig om hul kinders se kunswerke te deel. Dit is ’n amptelike illustrasiekompetisie wat deur Lapa-uitgewers aangebied word. JK Rowling is nie deel van die beoordelingsproses nie.

Kinders kan die hutsmerke #TheIckabog en #DieIckabog gebruik, en hulle (of hul ouers/voogde vir kinders jonger as 13) word aangemoedig om hul beste skilderye en tekeninge op sosialemediaplatforms ten toon te stel.. Besoek www.ickabogkompetisie.co.za vir detail oor die kunskompetisie.

You need to be Logged In to leave a comment.