Vyf brose kinderliggaampies lê leweloos in die besige hoofweg iewers in die Kaapse metropool. Hulle was maar net op pad skool toe; nes sovele kere vantevore. Ek was nie daar nie, maar ek kan my net indink wat hul laaste gesprekkies in daai laaste oomblikke was voordat die noodlot getref het. Vrolike kinderstemmetjies het dalk die reis op pad skool toe korter en lekkerder gemaak. Kosblikkies is dalk net vinnig oopgemaak om vir die maatjie langsaan te wys wat Mamma vir pouse ingesit het. Dalk was daar ’n pakkie skyfies en ’n ou soetdingetjie langs die pouse-toebroodjie ingepak, of dalk ’n lief-jou-baie-notatjie van Mamma en Pappa.

Ek was nie daar nie, maar ek hoor die bande wat skree en die skok en gille van omstanders wat weerloos toekyk. Alles word in die chaos van die oomblik doodstil. Die brein weet nie wat om eerste te registreer van hierdie afgryslike gebeure wat voor jou afspeel nie. Dis die sirenes van die ambulanse en ander noodvoertuie wat die skokgolwe in die lug kom onderbreek. Dis ’n hartseer dag in ons land. Vyf van ons kinderengeltjies is nie meer nie. Vrae en verwyte mag nie nou die oorhand kry nie, want iewers moet ’n mamma en ’n pappa nog die tyding van hul kleinding se skielike heengaan ontvang.

Ek was nie daar toe daardie hartverskeurende nuus gedeel word nie. Ek was wel een van hulle wat my gebed na Bo gestuur het – vir versterking, vertroosting en innerlike krag vir die ma en pa, ouma en oupa en familie van die engelkind wat nie meer is nie. My en ons harte is gebroke – saam met hulle. Ons deel in die verlies, want dis onse kinders; dalk nie met ’n biologiese band verbind nie, maar dis ons kinders op Afrika-bodem wat nie meer beskore was om die volgende dag se Afrika-son te sien opkom nie. En ons ween en Afrika ween, want ons is lief vir ons kinders.

Ek was nie daar nie, maar my oog en my hart sien die ruim speelterrein waar ons kleingoed maar soos altyd nog ’n pouse deur speel en baljaar. Ek hoor die opgeruimde skaterlaggies; sien die deel van die broodjie met die maatjie wat minder het, want Mamma en Pappa het geleer dit is belangrik om te deel. Niks is vir my so mooi as die onskuld en uitbundigheid van daardie oomblikke nie – lag, speel, groei en leer in ’n omgewing waar sorg, leiding, omgee en liefde is. En, weg van speelgrond en klaskamer wag die veilige en liefdevolle ruimte van ’n mamma en pappa se huis; word die taak van opvoeder, ondersteuner en versorger verder voortgesit.

Ek was nie daar nie, maar ek kan my net indink – die pyn, verslaenheid en ongeloof; my kind is nie meer. Arms wat soekend en wagtend uitsien na nog ’n laaste drukkie en ’n pappa wat ’n soen op die voorkop gee met die gevoelvolle laaste woorde – “luister en doen mooi wat juffrou en meneer in die klas sê”. Ons harte is saam in rou as ons soos daardie pappa en mamma tot die besef moet kom dat die laaste klompie jare van laerskool nie meer daar gaan wees vir ons engelkind nie; dat die grootskooljare en gepaardgaande groeipyne, lag, huil, vermaan en vertroos nie daardie mamma en pappa beskore sal wees nie; net die mooi herinneringe van die handjievol jare voor die noodlottige oggend sal oorbly. Uit die seer van daardie verpletterende oggend kan net die hoop, gebed en wens uitgespreek word dat berusting sal kom; dat die pyn en verlies wat so intens ervaar word, sal plek maak vir heling en groei, want hoe dan anders? Ons kan net hoop dat die vrolike laggie van ons engelkind sal bly voortleef in die aksies van daardie mamma en pappa wat daarna streef om hierdie soms koue en ongenaakbare wêreld ’n beter plek vir ander te help maak; dat die trane van hartseer eens gestort sal plek maak vir trane van blydskap vir die volgende mamma en pappa wat dalk deur ’n soortgelyke ervaring kan gaan, want dis deur ons wegkyk van ons eie pyn en daar wees vir ander se pyn en lyding dat onsself heling bekom.

Dis weer Jeugmaand. Dis my wens, hoop en gebed dat die hartseer episodes van ander se verlies ons sal uitdaag om saam te staan; dat ons harte nie sal ophou warm klop vir die veiligheid en beskerming van ons kinders nie; dat ons nie vir een oomblik sal skroom om daar te wees vir mekaar nie en dit deur woord, maar veral deur dade, sal wys. Soveel van ons kinders en jongmense word daagliks gekonfronteer deur die koue hand van ’n wrede grootmenswêreld. Dit mag nie so wees nie, want ons is veronderstel om hulle daarteen te beskerm. Dis ons plig.

Ek was nie daar nie, maar ek verbind my daartoe om saam met ander volwassenes in die gaping te staan vir ons kinders en jongmense.

Want – jou kind is my kind.

You need to be Logged In to leave a comment.