Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) bied op Donderdag 16 Junie ’n spesiale program aan ter viering van Jeugdag.
Die plaaslike dramagroep Kaleidoskoop sal hul produksie, Vuur en vlam, geskryf deur Gaireyah Fredericks, op die planke bring. Die Mengelmoes-digters van die Breytenbach-sentrum sal gedigte voordra.
Volgens Janine Brown, opvoedkundige beampte van die ATM, is die doel van die dag om veral jongmense bewus te maak van die apartheidsregering se taalbeleid in skole waarteen die jeug op 16 Junie 1976 in opstand gekom het, wat daartoe gelei het dat leerders vandag moedertaalonderrig kan geniet.
Die program begin om 10:00 in die Historium Konferensiesentrum langs die Afrikaanse Taalmuseum by Pastorielaan 11, Paarl.Bywoning is gratis en ligte verversings sal verskaf word.
Daar is beperkte plek beskikbaar en dus is besprekings noodsaaklik. Bespreek voor of op Vrydag 10 Junie by Janine Brown by die Afrikaanse Taalmuseum by 021 872 3441 of opvoeding@taalmuseum.co.za.