Jong voornemende meubelmakers word nou die geleentheid gebied om meer oor houtwerk te leer.Foto:


’n Gratis kortkursus in houtwerk en meubelontwerp word binnekort deur een van die Wynland se voorste meubelfabrieke vir skoolverlaters aangebied.

Die topstudente van die vier weke lange kursus sal ook oorweeg word vir moontlike internskappe by Prowell-kombuise in Wellington, waar hy of sy verdere onderrig en praktiese ondervinding in kombuisontwerp, kosteberekening en die installasie van ingeboude kombuiskaste sal kry.

Sanrie van der Spuy van Prowell-kombuise, wat reeds ’n houtwerkvaardigheidsprogram vir leerders in minderbevoorregte gemeenskappe borg, sê hul inisiatief sal ook die tekort aan ambagsmanne in die meubelvervaardigingsbedryf die hoof help bied.

Sy sê jong mense wat die kuns van houtwerk en meubelontwerp wil aanleer, maar nie formele studies kan bekostig nie, moet die kans gegun word om hulself te bemagtig.

“Ons program is ’n belegging in ons gemeenskap en hopelik ook in ons ekonomie en die toekoms.

“Ons glo leerders kan selfs op laerskoolvlak ’n passie vir houtwerk begin ontwikkel.”

Graad 7- en 8-leerders van die Blouvlei Akademie was verlede week baie beïndruk toe hulle elkeen eers ’n mooi bankie gebou het en toe daarop gesit het om nog meer oor die kuns om meubels te maak, te leer.

Van der Spuy sê programme om kinders aan te spoor om vaardighede aan te leer, sal hulle help om hul eie verborge talent te ontdek en daarop voort te bou.

“Basiese vaardighede in houtwerk en selfs ’n bietjie ondervinding sal dinge in die arbeidsmark makliker maak.”. Plek vir die kursus is beperk. Belangstellendes moet hul naam, van, ouderdom en ’n kort motivering waarom hulle graag die kursus wil bywoon, per e-pos na mywoodskills@gmail.com of per WhatsApp na 082 299 0689 stuur.

You need to be Logged In to leave a comment.