Minder as drie maande nadat Janien Cronjé se been geamputeer is, is sy reeds terug op die oefenveld waar sy spiesgooi afrig en sien sy uit om nie net binnekort weer sonder krukke te loop nie, maar ook lekker te dans.
Janien het vroeër vanjaar die skoknuus ontvang dat ’n gedeelte van haar linkerbeen geamputeer moet word nadat osteosarkoom, ’n soort beenkanker, by haar gediagnoseer is.
En hoewel baie mense hulle deur ’n kankerdiagnose laat onderkry, het die 23-jarige Janien gewys sy gaan nie ophou om aan haar drome te bou nie, en eerder haar planne ’n bietjie aangepas om haar drome te bereik.
Janien was in haar skooljare ’n kranige atleet met ’n sterk liefde vir spiesgooi. Haar pa, Nico, is ook ’n bekende spiesgooi-afrigter. Janien het in sy spore gevolg en leef haar passie verder uit as spiesgooi-afrigter by skole in die Paarl en Wellington.
Sy vertel sy het vir ’n paar jaar al gereeld pyn in haar linkerknie ervaar en het dit met pynmedikasie behandel. Omdat die pyn dan vir ’n wyle weggegaan het, het sy nie veel daarvan gedink nie.
Verlede jaar het die pyn egter aansienlik erger geword en nadat haar pa skielik siek geword het, het sy daarop gefokus om haar pa te help deur onder andere sy werkers te vervoer en net die pyn in haar knie met medikasie gedemper.
“My pa het in Januarie vir my gesê dat ek eerder dokter toe moet gaan. Die dokter het gesê hy dink ek het my kraakbeen seergemaak en my na die Paarl-hospitaal vir X-strale verwys.”
Sy sê ’n CT-skandering is ook by die hospitaal gedoen, en het hulle vermoed dat daar ’n gewas in haar been is. Sy is daarna na die Tygerberg-hospitaal verwys, waar die dokter gesê het haar tibia lyk baie swak.
Janien sê ’n MRI-skandering en ’n biopsie is gedoen en osteosarkoom is twee weke later – drie dae ná haar 23ste verjaarsdag – in haar linkerbeen gediagnoseer.
“Die dokter het verduidelik my been sal moontlik geamputeer moet word. Ek het uitgefreak en hy kon dit seker sien. Hy het my gerusgestel dat amputasie die laaste opsie sal wees.”
Janien het besluit om immunoterapie te ondergaan, wat sy sê baie goed vir haar gewerk het.
“Die pyn het ná ’n paar maande skielik ondraaglik geraak. Ons het toe na Tygerberg se onkologie-afdeling gegaan, waar ek elke vier ure 10 ml morfien teen die pyn gekry het. Ek het regop gesit en slaap, want ek kon nie lê en slaap nie, so erg was die pyn,” vertel sy.
Verdere toetse het op ’n latere stadium gewys die gewas druk op ’n senuwee, en dit is wat die erge pyn veroorsaak het.
Die “laaste opsie” het vinnig ’n werklikheid vir Janien geword.
“Die dokter het my die Donderdag gesê ek het geen keuse as om my been te laat amputeer nie en ook dat die operasie die Maandag gedoen gaan word.
“Ek het gehuil. Dit is ’n deel van my wat sedert my geboorte daar is, en dit sal net weg wees.”
Sy vertel toe sy ná die operasie wakker word, was sy ’n bietjie bang.
“Ek wou nie afkyk nie. Ek was bang om af te kyk, want dan sou ek die werklikheid in die gesig staar.
“Maar ná die operasie was die pyn weg. Ek was vir vier maande in erge pyn, en dit was weg.”
Volgens Janien het sy fisio-behandeling gekry en sy kon op die derde dag reeds die oorblywende deel van haar been lig.
Sy sê die terapeut het die dag toe sy ontslaan word, gesê sy het twee keuses oor hoe sy gaan reageer op mense wat na haar staar of haar uitvra oor hoekom sy net een been het, en sy sal moet besluit hoe sy daarop gaan reageer.
“Sy het gesê ek kan óf vriendelik wees, óf ek kan nors wees, maar ek is maar ’n vriendelike mens . . .”
Oor hoe sy voel wanneer sy in die openbaar is, sê sy sy ervaar wel dat baie mense na haar staar.
“Baie mense vra ook wat gebeur het, en dan vertel ek hulle maar. Baie kinders wat my sien, wys vir hul mammas dat ek net een been het, maar dit is kinders – dit pla my nie. Wat wel seermaak, is sekere mense se woorde.”
En hoewel Janien ’n baie positiewe ingesteldheid het, erken sy dit is vir haar ook moeilik omdat sy sekere basiese dinge nie meer vir haarself kan doen wanneer sy met krukke loop nie, en sy is van iemand afhanklik om haar te help.
“Ek moes myself ook vergewe het omdat ek nie vroeër dokter toe gegaan het nie, maar ek het myself daarvoor vergewe.”
Verdere skanderings het gewys dat Janien nou kanker vry is.
Hierdie week kry sy haar tydelike prostese, en hoewel dit nie haar permanente prostese is nie, straal sy behoorlik van opgewondenheid.
“Ek sien daarna uit om my eie koppie tee te dra wanneer ek die prostese kan gebruik, en om alleen in die stort te staan en om allerhande klein goedjies vir myself te kan doen – en te dans; ek wil so graag weer net dans!
“Ek sal met my kunsbeen moet leer loop, maar ek het reeds iemand gekry om my te leer dans. As ek nou nie Vrydag al kan dans nie, moet hy maar by my sit en gesels,” lag sy.
Janien sê haar eerste prioriteit gaan wees om met haar nuwe prostese te leer loop, waarna sy ’n werk wil kry sodat sy by ’n mediese fonds kan aansluit.
Sy het ook verlede jaar vir haar ’n motor gekoop, maar omdat dit ’n handratkas het, kan sy dit nou glad nie bestuur nie en moes sy gevolglik haar werk as au pair prysgee. ’n Outomatiese-motor is ook iets wat sy graag wil kry.
“My langtermyndoelwit is om weer te kan spiesgooi en te swem. My pa rig topatlete af. Ek leer maar nog baie by hom en sal ook graag eendag ’n topatleet wil afrig,” sê sy met ’n glimlag.
Janien sê sy wil ook graag meer bewusmaking oor osteosarkoom kweek.
Volgens haar is sy baie dankbaar vir die goeie ondersteuning wat sy van haar familie en vriende kry.
“Ek besef ook net hoe goed God is. Ek is nie lid van ’n mediese fonds nie, maar Hy het elke keer vir my ’n deur oopgemaak. Dit is vir my wonderlik hoe die Here net elke keer voorsien het.”. ’n Geldinsamelingsfunksie, Leg 4 Janien, om die koste van Janien se permanente prostese asook ander uitgawes wat daarmee gepaard gaan te dek, word van 21 tot 23 Oktober gehou. Leg 4 Janien is ’n staptog van 127 km wat oor drie dae afgelê word en stappers wat deelneem, moet iemand kry om hulle per kilometer te borg. ’n Back-a-buddy-blad is ook begin en ’n dans word op 4 November by die Paarl-rugbyklub gehou.
Mense wat Janien se reis wil volg, kan haar op Facebook by Leg 4 Janien volg. Meer besonderhede oor die geldinsameling is ook daar beskikbaar.


