Jana Malan speel die 16-jarige Mari in Fraksie saam met die karakter se ma, Nina.


Van die skoolbanke van Hugenote Hoërskool bevind Jana Malan haarself deesdae op die akteurstoel agter die skerms van ’n nuwe televisiereeks, Fraksie op kykNET.

Fraksie is ’n produksie onder die regie van Nina Swart. Leon van Nierop het in Huisgenoot die reeks bestempel as “’n tydige en goed beplande uitreiking vir ’n reeks oor finansiële korrupsie, beleggingskemas wat (kan) inmekaarstort, ambisie, kompetisie en finansiële roofvoëls wat toeslaan op niksvermoedende mense wat na rykdom smag.”

Jana omskryf dié reeks as iets nuuts vir Afrikaanse televisie.

“Dit het ’n insane cast en ’n rollercoaster van ’n storielyn. Dit raak aan onderwerpe waaroor mense nie elke dag praat nie. Dit het so ietsie van alles. Jy gaan nie altyd van almal hou nie, maar jy gaan nie anders kan as om aan te hou kyk nie,” sê die jong aktrise.

In die reeks beliggaam sy die 16-jarige karakter, Mari.

“Sy is bitterlik slim en so bietjie spoiled, maar sy maak op daarvoor met haar ongelooflike skerp sin vir humor. Sy is maar ’n tough cookie to crack, maar haar harde buitekant is daar om haar te beskerm teen al die seer binne haar.

“Sy word taamlik misgekyk deur haar ouers en leef in haar jonger broer, Zac, se skaduwee. Haar rebellie is maar ’n poging tot ’n fraksie van haar ouers se aandag.”

Van Wellington het die 20-jarige student haar vlerke gesprei en verken sy tans die dissipline van haar loopbaan, waarvan haar tweede jaar drama- en teaterstudies by die Universiteit Stellenbosch amper­tjies verby is.

Jana glo dat haar Hugenote-alma mater die regte klimaat gekultiveer het om ’n gebalanseerde grondslag vir dié talent te kweek.

“Ek was ewe gemotiveer vir akademies, sport en kultuur . . . al het ek dit meer geniet om aandag aan sport en kultuur te gee. Ek het maar aan alles probeer deelneem en uitgehelp waar ek kan, (hoewel ek dink my voormalige tennisspan was dalk beter af sonder my bydrae),” skerts sy.

Die meisie makeer nou weer niks in die blik van kameralense en die kollig van dié wat drama deur mense skets nie.

“Dit is een van die beste ervarings wat ek nog gehad het. Die mense, die storie, die proses – ek dink dit was die beste geleentheid moontlik vir my om ’n debuutrol te vertolk.”

Sy beoefen selfs amusante maniere om haar karakter op haar eie te ontwikkel.

“Ek journal baie oor Mari en haar gevoelens. Dit help baie om in haar headspace te kom tydens prep. Die span agter en voor die skerms is baie ondersteunend. Ek kon nie vir ’n beter omgewing gevra het nie.”

Die oudisie is met “selftapes” afgelê wat Jana se senuwees snaaks genoeg erger op hol gejaag het as met enige ander oudisie.

“Ek het sticky notes oral in my kamer geplak vir oogkontak-punte en verskillende outfits, omdat ek vier verskillende scenes moes doen. Ek het my twee beste vriendinne, Jana Bosch en Zandri Dry, teen die mure uitgedryf, maar hulle is dié beste kamera-vrou en mede-aktrise in die selftape game!”

Sy het vroeg al werk gemaak van haar doelwitte, en danksy ma Margot Serfontein en pa CD Malan se leiding, het sy ’n agent se dienste verkry en begin om oudisie ná oudisie af te lê.

Die oor-en-oor-probeerslae het haar in die sorgvuldige ervaring van Nina Swart laat beland.

“Nina Swart is ongelooflik. Sy is crazy talentvol en ’n belewenis om mee te werk. Sy werk met soveel omgee en deernis en het die vermoë om die beste optrede uit ’n mens te haal. Wat haar so incredible maak is dat sy moeite doen om te verstaan hoe haar akteurs individueel funksioneer. Sodoende weet sy presies hóé om elkeen te help en wat hulle van haar verlang.”

Jana sal graag in nóg reekse wil speel en ook self ’n film of twee wil skiet.

  • Former Hugenote High School learner Jana Malan (20) has made her debut appearance in the new kykNET series titled Fraksie. She tells of her strong Wellington foundation and fledgling career as an actress.

You need to be Logged In to leave a comment.