’n Bekende inwoner van die Paarl is sopas terug vanuit Australië waar hy op die rolbalbaan uitgeblink het.
Jacques Carstens, voormalige finansiële hoof van die Drakenstein-munisipaliteit, het verlede maand na Perth gereis as lid van die Suid-Afrikaanse rolbalspan wat deelgeneem het aan die Wêreld Oorplantingspele.
Die Wêreld Oorplantingspele vind elke twee jaar plaas en is uitsluitlik vir atlete oor die wêreld heen wat ’n orgaanoorplanting ondergaan het.
Jacques is met ’n lewer gebore wat te veel Alpha-1 Antitrypsin produseer wat oor die langtermyn lei tot ’n “fatty liver” of te wel “cirrhosis of the liver”.
Dwarsdeur sy lewe het hy die situasie bestuur, maar in Mei 2016, terwyl Jacques waargeneem het as munisipale bestuurder van Drakenstein, het hy in die hospitaal beland met sy linker onderbeen wat kliphard en rooi opgeswel het.
“My internis (dr. Craig Franklin) by Mediclinic Paarl het ontdek dat ek lewersirrose onder lede het en ’n leweroorplanting was nodig.
“Ek is verwys na die lewerkliniek by die Donald Gordon Mediclinic in Johannesburg waar ek ’n week lank toetse ondergaan het om te bepaal of ek geskik is vir ’n leweroorplanting,” vertel Carstens.
“Ek het op 23 Desember 2016 ’n leweroorplanting daar ondergaan.”
Van hier was dat ’n lang pad na herstel.
Jacques moes ná die oorplanting vir drie maande vir observasie in Johannesburg bly.
Omdat sy herstel sonder komplikasies was, kon hy reeds einde Februarie van 2017 terugkeer Paarl toe.
En wonder bo wonder het Jacques enkele dae ná sy terugkeer huis toe weer sy pligte as finansiële hoof by die munisipaliteit hervat, tot met sy aftrede einde Maart 2020.
Dan ook het hy van November 2020 tot einde Februarie 2022 vir 16 maande waargeneem as finansiële hoof by Knysna-munisipaliteit.
Jacques sê voor die leweroorplanting het hy pal moeg gevoel, maar het geredeneer dit is seker maar die ouderdom wat hom inhaal.
“Twee dae ná die oorplanting het ek vir my vrou (Elsa) gesê dat die ouderdomspyne in my skouers en knieë nie meer daar is nie.”
Jacques se ou lewer het so 40% gefunksioneer en kon nie meer sy bloed suiwer nie. Sy nuwe lewer (wat hy ontvang het van ’n 26 jarige vroue-kadawer-skenker) funksioneer uitstekend.
Hy moet wel gereeld bloedtoetse ondergaan om die lewerfunksies te bepaal, maar alles verloop seepglad, vertel Jacques.
“Ná die oorplanting het my gehalte van lewe dramaties verbeter en ek sal die skenker en haar familie vir ewig dankbaar wees.”
Jacques het eers rolbal begin speel in Januarie 2019, om saam met sy vrou, Elsa, te speel. Hy het wel as kind ’n bietjie saam met sy ouers rolbal op Worcester gespeel.
Sy ma was ’n provinsiale speler en, sê Jacques met ’n glimlag op sy gesig, hy het seker sy talent by haar geërf.
Jacques sê rolbal is ’n sport wat deur oud en jonk geniet kan word en dit is ook redelik goedkoop om aan deel te neem. Jou stel balle is die grootste enkele koste aan die begin.
Hy sê verder dat as jy kompetisies begin speel en heeldag in toernooie speel, moet jy beslis rolbal-fiks word en bly.
“Ons oudste lid by Paarl-rolbalklub – tannie Dalene – speel nog elke week minstens twee keer rolbal op die ouderdom van 92 jaar.”
Jacques is voorlopig vir die SA oorplantingspan gekies ná verlede jaar se Suid-Afrikaanse Oorplantingspele.
Daarna moes alle spelers herkwalifiseer voordat die SA span bekend gemaak is.
Jacques is vir die ouderdomskategorie 60-69 jaar gekies.
Hy sê dit is ’n besonderse voorreg en ervaring vir hom om aan die Spele deel te neem.
Hy vertel Australië is ’n rolbal-mal land.
“Die kompetisie teen die Australiërs is altyd baie taai.
“Hul rolbalbaan-fasiliteite is natuurlik van die beste in die wêreld. Die Osborne Park Bowling Club waar die toernooi plaasgevind het, beskik oor vier grasbane wat teen ’n spoed van 15 sekondes hardloop. Hulle het ook een sintetiese baan gehad wat teen 18 sekondes gehardloop het.
“Dit is bitter vinnig. Ons bane in die Paarl hardloop so teen 12 en 13 sekondes. Die aanpassing was dus groot.
“Ek het vir twee dae voor die toernooi by die fasiliteit gaan oefen om aan die vinnige bane gewoond te kan raak. Dit het gemaak dat ek baie goed kon speel en die silwermedalje in my ouderdomsgroep kon wen.”
Jacques het hierin geslaag deurdat hy in die proses twee Australiërs, ’n speler van Hongkong en ’n speler van Singapoer, geklop het voordat hy in die eindronde teen ’n Australiër verloor het.
“Dit was ’n ervaring wat ek nooit sal vergeet nie.”
Jacques hoop om oor twee jaar, wanneer die spele in Dresden, Duitsland, aangebied word, weer gekies te word, maar dit sal dan in die 70-79 jaar-kategorie wees.