Vir bykans twee dekades reeds bewys kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou dat dit ongetwyfeld ’n liefdeswenresep is. Tientalle Suid-Afrikaanse boere het sedert 2007 die liefdes van hul lewe danksy dié gewilde maatsoekreeks gevind.
Só het die 15de reeks, wat vroeër vanjaar op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai is, vir drie van die top-vyf boere liefde besorg.
Vandag blom die liefde behoorlik vir Louis B, terwyl Hennie en Eloïse, asook Francois en Vanessa, verloof is. Boonop het Francois en Vanessa onlangs die trotse ouers van ’n pragtige babaseuntjie geword.
Die borrelende Marciel Hopkins, gesoute Boer soek ’n vrou-aanbieder, sê dit is vir haar ’n reusevoorreg om Boer soek ’n vrou vir ’n vierde keer aan te bied.
“Ek is elke jaar van voor af opgewonde oor al die nuwe mense wat ek gaan ontmoet, die mooi plekke van ons land wat ek sal sien en natuurlik ook die pragtige liefdesstories wat geskryf gaan word.
“Die afgelope 15 reekse het reeds bewys hoe mense se lewe wesenlik kan verander wanneer hulle die regte lewensmaat vind om die lewe vorentoe mee aan te pak.
“Boer soek ’n vrou is ’n wonderlike platform waardeur jy nuwe mense kan ontmoet en leer ken. Ek sal enigiemand aanmoedig om braaf te wees en in te skryf vir hul kans op liefde.
“Vir my lê die sukses van die reeks deels daarin dat daar genoeg tyd is vir deelnemers om mekaar beter te leer ken. Dit help wanneer belangrike toekomsbesluite geneem word,” sê sy.
“Ek glo met my hele hart in Boer soek ’n vrou se potensiaal om die liefde te laat blom, en dit maak my werk vir my lekker en opwindend.”
En nou soek kykNET ’n nuwe oes van boere of plaasbestuurders, manlik of vroulik, wat deel wil wees van die 16de reeks.
Só kan boere inskryf:
. Besoek www.kyknet.tv waar jy óf aanlyn kan inskryf óf ’n inskryfvorm kan aflaai.. Skakel 079 614 2229.. Stuur e-pos na boer@wolflightsa.com