Die drama rakende die toekoms van Stadsig, die nuwe veiligheidslandgoed wat net buite Wellington langs die pad na Bainskloof ontwikkel word, het pas verder verdiep.
Die besluit van die groepie huiseienaars wat reeds in Stadsig woon of wie se wonings nou voltooiing nader, om geen verdere geld uit hul verbande aan die organisasie uit te betaal wat as sakeredder van die projek optree nie, is tydelik deur die sakeredder gestuit. Die sakeredder dring daarop aan dat al hierdie geld aan hom oorbetaal moet word.
Boonop is die boukontrakteur wat aangestel is om die bouwerk by die oorspronklike boukontrakteur van Stadsig oor te neem, die bouwerk aan die eerste huise reg te maak en die projek te voltooi, nou deur die sakeredder gesê om die terrein te verlaat. Hy mag slegs die terrein betree om sy toerusting te verwyder anders sal regsaksie op grond van onwettige betreding teen hom geneem word.
Volgens die huiseienaars vergroot die nuutste skuiwe deur die sakeredder die kanse dat hulle óf hulle huise en daardeur al hulle spaargeld kan verloor óf dat duur hofsake en jare se onsekerheid hulle voorland is.
Jan en Joan Loubser, ’n afgetrede egpaar sê hulle het reeds drie jaar gelede vir hulle ’n huis in Stadsig gekoop.
“Ons het in Vishoek gewoon en ons kinders het vir hulle ’n plekkie langs die Perdeskoen naby Wellington aangeskaf. Ons het vir hulle kom kuier en was so beïndruk met Wellington en omgewing dat ons besluit het om ook na die mooi, rustige dorp te verhuis.”
Die Loubsers het vir hulle ’n huis in Stadsig kontant gekoop maar kon nie dadelik in die huis intrek nie as gevolg van die knoeiwerk van die eerste boukontrakteur. Die nuwe boukontrakteur het dadelik begin met herstelwerk aan die huis en die Loubsers het intussen ’n piepklein woonstelletjie in Wellington gehuur. Daar moes uiteindelik baie herstelwerk gedoen word en die terrein, wat nie behoorlik voorberei was nie, moes ook deur die nuwe boukontrakteur reggemaak word.
Ná drie jaar waarin die Loubsers elke maand hul woonstelhuur plus ook nog diensgelde en erfbelasting op die nuwe huis moes betaal, het hulle uiteindelik op die punt gestaan om in hul nuwe huis in Stadsig in te trek.
“My hande het al behoorlik begin jeuk om met die tuin om die nuwe huis te begin en ons het al begin droom van hoe ons ons vriende op die pragtige kuierstoep by die nuwe huis gaan onthaal,” se Joan Loubser.
Die nuutste probleme tussen die ontwikkelaar van Stadsig, die sakeredder en die nuwe boukontrakteur, het alles nou tot stilstand laat kom. ’n Vlaag van onsekerheid het nou oor die groepie huiseienaars wat reeds hul huise betrek het en die paar wat op die punt gestaan het om in hul nuwe huise te trek, neergesak.
Volgens kenners kan Stadsig se toekoms nou in een van twee rigtings beweeg: Óf die huiseienaars kan toestemming kry om hul huise nou oor te neem, self te voltooi en sodoende verseker dat Stadsig in die toekoms normaal sal groei en verder ontwikkel, óf hierdie plan kan gestuit word, die hele ontwikkeling gelikwideer word waardeur veral die huidige eienaars alles wat hulle in Stadsig belê het, sal verloor.