Paarl Post
ontvang gereeld klagtes van inwoners oor raadslede in hul wyke wat nie aktief betrokke is nie, maar steeds maandeliks vergoeding as wyksraadslede ontvang.
Bradley Brown, finansiële hoof by die Drakenstein-munisipaliteit, verduidelik raadslede moet in diens van die gemeenskap staan, beskikbaar wees in die gemeenskap, toesien dat kommunikasie deurgegee word, met wykskomitee-lede skakel en insette lewer oor die munisipale ordonnansies en beleide.
“Verder moet raadslede in die verskillende portefeulje-vergaderings dien en ook in maandelikse raadsvergaderings insette lewer om goeie regeringsbestuur op plaaslike vlak te verseker.”
Die konsep-begroting vir jaarlikse salarisse van raadslede is vroeër vanjaar as volg uiteengesit: R1 177 508 (burgemeester), speaker (R942 005), onderburgemeester (R942 005), hoofsweep (R883 130), burgemeesterskomiteelid (R883 130) en gewone raadslid (R382 200).
Paarl Post het die munisipaliteit gevra of dié bedrae wel finaal deur die raad goedgekeur is, maar het geen terugvoer in die verband ontvang nie.
Brown het wel gesê raadslede se vergoeding word elke jaar deur die Wet op die Vergoeding van openbare ampsbekleërs bepaal.
Hy sê die vergoeding en voordele van munisipale bestuurders en senior bestuurders word ook jaarliks deur die nasionale minister van plaaslike bestuur bepaal.
“Munisipaliteite het geen diskresie oor raadslede en senior bestuurders se vergoeding nie.”
Brown sê benewens raadslede se vergoeding ingevolge die Wet op die Vergoeding van openbare ampsbekleërs, is elke raadslid ook geregtig op ’n selfoontoelaag van R3 400 per maand en ’n datatoelaag van R300 per maand.
Volgens Brown is die burgemeesterskomiteelede deel van die uitvoerende burgemeester se leierspan, wat elkeen verantwoordelik is vir die politieke leierskap van elke portefeulje.
Voorbeelde van sulke portefeuljes is finansies, ingenieursdienste, ekonomiese ontwikkeling en beplanning, gemeenskapsdienste, veiligheid en menslike nedersettings.
Vroeër vanjaar het die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (Salga) juis ’n voorstel ter tafel gelê dat prestasiebestuur- en aanspreeklikheidsgebaseerde vergoeding vir raadslede, burgemeesters en speakers oorweeg moet word.

