Talle gesinne van Vanwyksvlei, wat sedert 2018 dakloos gelaat is ná ’n braai by ’n naburige kerk, wag nog op vergoeding vir wat hulle sê “kwaadwillige skade” was.

Die beweerde voorval het op 3 Maart verlede jaar op die terrein van die VGK Van Wykvlei plaasgevind.

Volgens een van die slagoffers, wat verkies om anoniem te bly, het die kerk ’n braaigeselligheid gehou, maar die braaivleisvure is nie ná die tyd geblus nie.

Later die dag het ’n sterk wind opgesteek en die braaivleisvure laat opvlam. Die vlamme het hierna vinnig na die aangrensende erwe versprei.

Pandemonium het losgebars toe die paniekbevange inwoners uit hul opslaanhuise na veiligheid moes vlug.

Omstanders het hand bygesit en probeer om die vlamme te blus, maar dit was tevergeefs en alles het afgebrand.

Een van die ontstoke slagoffers vertel: “Ons het besluit om ’n eis teen die kerk in te stel omdat hy nalatig was. Ons het alles verloor.”

Die brandslagoffers het reeds ’n prokureur genader om ’n eis teen die kerk in te stel.

“Ons is net een keer deur die prokureursfirma geskakel om ’n skikking te bereik. Albei partye was nie daardie spesifieke dag beskikbaar nie. Ons bel sedert verlede jaar vir die skikking, maar kry geen antwoord nie,” vertel die ongelukkige slagoffer.

Niemand is in die brand beseer nie.

Paarl Post het ’n telefoniese gesprek met ds. Roger Groenewald van die VGK Vanwyksvlei gevoer en ’n navraag na hom gestuur.

Hy het egter nie kommentaar hieroor gelewer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.