’n Scheepers-familie van die Paarl was verlede Donderdag deel van ’n groep inwoners wat buite die Paarl-hospitaal betoog het uit ongelukkigheid oor die gehalte van diens en lang wagtye by die hospitaal.
Dié familie het antwoorde geëis ná die dood van hul seun in Mei verlede jaar – weens beweerde nalatigheid deur die hospitaal se personeel.
Dienslewering by die Paarl-hospitaal is onlangs weer in die kollig geplaas nadat verskeie inwoners hul misnoeë uitgespreek het oor veral die hospitaal se ongevalle-eenheid en kraamafdeling.
Die bewerings is dat pasiënte dikwels lank moet wag voordat hulle mediese behandeling ontvang, wat in sommige gevalle glo daartoe lei dat pasiënte se toestand verswak en hulle selfs sterf omdat hulle nie betyds behandel is nie.
Paarl Post het onlangs berig dat hierdie misnoeë daartoe gelei het dat aktiviste van onder meer die Paarl en Klapmuts ’n dringende kommissie van ondersoek na bewerings van sogenaamde onreëlmatighede en wanpraktyke by die hospitaal eis.
Juwariyha Scheepers, die ma van Majahid (24), sê haar seun is glo verkeerdelik gediagnoseer en het tot sy afsterwe op 20 Mei verlede jaar die verkeerde medikasie en behandeling by die hospitaal ontvang.Volgens haar moes Majahid ’n neurologiese spesialis besoek, maar toe het hy slegs medikasie vir sy simptome by die TC Newman-kliniek in Paarl-Oos ontvang.
Sy sê weens vermoedelik ’n oordosis van hierdie medikasie moes hulle hom vir verdere behandeling by die Paarl-hospitaal aanmeld.
“Hierdie verkeerde medikasie het veroorsaak dat my kind tardive dyskinesia gekry het. ’n Suster by die kliniek het dit persoonlik aan my bevestig. Ons het die siekte gaan Google en dit is presies wat met my kind gebeur het.”
In Mei alleen verlede jaar was die gesin glo meer as 17 keer met Majahid by die hospitaal.
Hy het daar volgens sy ma egter dieselfde medikasie ontvang.
Die Paarl-hospitaal het hom volgens haar ook gereelde inspuitings gegee wat bedoel was om hom te “kalmeer”.
Volgens die gesin het Majahid se longe “platgeval” – wat glo weens die medikasie en inspuitings veroorsaak is.
“My kind se longe is vernietig. Hy het voor die hospitaal op sy maag geseil.
“Hulle het gesê hy moet liewer vir dwelms getoets word.
“Ek het my kind geken – hy het nie dwelms gebruik nie.
“Ons staan hier as ’n huisgesin, baie gebroke.
“Ons kind is nou al ’n jaar oorlede. Ons kon tot vandag toe nie closure kry nie.”
Sy sê hulle het al verskeie kere versoek om toegang tot Majahid se mediese verslag te kry, maar hierdie versoeke is óf van die hand gewys óf het op dowe ore geval.
“Sy lêer het net verdwyn,” het sy gesê.
Marthinus Gouws, ’n gemeenskapsaktivis van die Paarl wat namens die inwoners die kommissie van ondersoek eis, het by die betoging gesê hy is, in samewerking met ander aktiviste, in die proses om die inwoners se griewe by die provinsiale gesondheidsdepartement te opper.
“Ons het nou genoeg gehad. Hierdie is nie probleme wat nou onlangs ontstaan het nie. Inwoners kla nou al baie lank oor die toestand van hierdie hospitaal en hoe hulle deur die personeel en sekuriteitswagte behandel word,” het Gouws gesê.
Francois van der Watt, die hospitaal se uitvoerende hoof, het by vorige navraag aan Paarl Post gesê pasiënte gaan voortaan die impak van hulpbronbeperkings ervaar, insluitend langer wagtye, nadat die nasionale regering die Wes-Kaapse departement van gesondheid nie van ’n voldoende verhoging vir vanjaar voorsien het nie.
Hy sê daar is ’n algemene tekort aan mediese personeel by die hospitaal se noodeenheid (ongevalle).
Boonop moet hulle nou na meer pasiënte omsien as tevore.
“Alle pasiënte se eerste aanmeldingsplek moet altyd die primêre gesondheidsorgkliniek wees, behalwe wanneer dit ’n noodgeval is.
“Net mediese of chirurgiese noodgevalle is veronderstel om in ’n hospitaal behandel te word.”