Die Stellenbosch-munisipaliteit sal tot die middel van Maart watertenkwaens na enkele gebiede in Franschhoek stuur te midde van wateronderbrekings wat deur langdurige beurtkrag veroorsaak word.Foto: Verskaf


Terwyl die Stellenbosch-munisipaliteit sê dele van Franschhoek kan tot minstens die middel van volgende maand wateronderbrekings weens langdurige beurtkrag ervaar, het inwoners hul ongelukkigheid uitgespreek oor die gehalte van water wat deur munisipale water-tenkwaens voorsien word.

Die Stellenbosch-munisipaliteit het vandeesweek by navraag aan Paarl Post bevestig dat hy voortaan watertenkwaens na gebiede soos Groendal, Langrug en Mooiwater in Franschhoek sal stuur om inwoners hier van veilige drinkwater te voorsien.

“Hierdie wateronderbrekings is weens die lang ure van beurtkrag wat deur Eskom toegepas word. Die gevolg is dat ons reservoirs nie genoeg tyd het om tot op die voldoende vlakke te hervul nie,” sê Stuart Grobbelaar, ’n munisipale woordvoerder.

Volgens Grobbelaar het die munisipaliteit drie kragopwekkers bestel vir elk van sy pompstasies wat water na hierdie betrokke reservoir voer.

Hy sê die munisipaliteit beoog om hierdie kragopwekkers teen die middel van Maart te laat installeer.

Inwoners van die geraakte gebiede sê egter hulle is skepties oor die gehalte van die water wat deur die tenkwaens voorsien word.

“Is dit regtig hoe ons mense moet lewe? Water uit ’n lorrie elke keer as daar beurtkrag is? Hoekom kan die munisipaliteit nie ’n kragopwekker vir die reservoir installeer nie? Daar is geen verskoning nie; hierdie is onaanvaarbaar,” het ’n Facebook-inskrywing deur Moses September, ’n Franschhoek-inwoner, op een van die dorp se aanlyn groepe verlede week gelui.

Nog ’n inwoner, Wilna Daniels, sê die munisipaliteit gee nie om oor hul gesondheid nie.

“Dis vuil water. Hulle moet dit maar self drink. Dis kamstig by brandkrane getap; dit terwyl ons weet dit kom van damme en riviere af,” beweer sy.

Grobbelaar sê egter inwoners kan daarvan verseker wees dat die tenkwaens se water veilig is om te drink.

“Dit is behandelde drinkwater wat by die naaste watersuiweringsaanleg in die gebied ontgin word. Dit is heeltemal veilig om te drink.”

Grobbelaar sê ook informele nedersettings wat in hoogliggende gebiede opspring, het ’n groot uitwerking op die munisipale infrastruktuur en die waternetwerk.

“Ons het ’n informele nedersetting wat in ’n hoogliggende gebied bo die reservoirvlak geleë is, wat dit nog moeiliker maak om die betrokke reservoir te vul wanneer die krag aankom.

“Die stelsel voed dan in wese beide die reservoir en gemeenskap op dieselfde tyd, wat bydra tot die onderbrekings in ons watertoevoer.”

Hy sê informele nedersettings in hoogliggende gebiede buite reservoirlyne plaas groot druk op die munisipaliteit se grootmaat-water-infrastruktuur. “Ons infrastruktuur is nooit ontwerp om huishoudings in hoërliggende gebiede, veral tydens langdurige beurtkrag, te voed nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article