Wanneer munisipale kabels op ’n erf gesteel word en dit raak die kragtoevoer na mense se huis, is daardie inwoners self verantwoordelik vir die herstel en vervanging van die kabels, bevestig Marius Wüst, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van ingenieursdienste.

“Die munisipale kabels waarna verwys word, is eintlik die dienskabel of toevoerkabel (van die straat) na die verbruiker se woning. Dit is deel van die elektriese installasie van die spesifieke perseel, of dit nou ’n huis, plaas of fabrieksaansluiting is – dit is en bly deel van die verbruiker se installasie en verantwoordelikheid.”

Volgens Wüst is die praktyk al jare in werking. Hy sê wanneer die toevoerkabels gesteel word, gebeur dit op die erf van die verbruiker, wie se plig dit is om die nodige beskermingsmaatreëls in te stel om sulke voorvalle te voorkom. Dit beteken inwoners is self verantwoordelik om ’n private elektrisiën te ontbied en te betaal om herstelwerk te doen indien ’n kabeldief enige toevoerkabels, wat na die inwoner se woning lei, gesteel het.

’n 62-jarige ouma van Smartie Town sê sy sit al die afgelope twee maande sonder elektrisiteit.

“Ek was by die munisipaliteit en is daar ingelig dat ek self ’n kabel van R3 000 moet koop en dan ’n gekwalifiseerde elektrisiën moet kry om die herstelwerk te doen. Sy dienste gaan my meer as R4 000 kos. Ek is ’n pensioenaris en my drie kleinkinders woon by my. Ek het nie sulke geld om die herstelwerk te laat doen nie. Baie mense hier in die omgewing het dieselfde probleem, en hulle het ook nie die geld om die kabels te laat regmaak nie.”

Bure het onlangs hul gasbottel vir die ouma geleen sodat sy ten minste kos kan maak. Sy sê dit is baie moeilik om sonder elektrisiteit oor die weg te kom.

“My hele lewe is ontwrig.”

Wüst voeg verder by: “Ons kan sekerlik nie van die ander belastingbetalers verwag om aanhoudend vir hierdie diefstalle van verbruikers se aansluitings te betaal nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.