Marthinus Gouws wys na krake in een van die pilare by die woonstelle in Lantanastraat. Foto’s: Rasaad Adams


Dit is ’n tragiese ramp wat wag om te gebeur en dringende ingryping is nodig om die verlies van lewe te verhoed, beskryf inwoners die situasie by sommige van die woonstelblokke in Paarl-Oos te midde van krake in talle van die eenhede se trappilare.

Inwoners wat al bykans 40 jaar hier woon, het verlede week aan Paarl Post gesê die trappe het oor die jare verweer, maar ’n gebrek aan doeltreffende instandhouding het ook tot die verwering bygedra.

Hulle het ’n beroep op plaaslike owerhede gedoen om hier in te gryp “voordat iemand seerkry”.

Marthinus Gouws, ’n gemeenskapsleier- en menseregteaktivis, woon ook al sy hele lewe lank in een van die woonstelle in Lantanastraat.

Volgens Gouws is die situasie al verskeie kere by owerhede, insluitend die Drakenstein-munisipaliteit, geopper.

“Die situasie hier is blatant weens swak dienslewering. Daar is skynbaar nooit geld om in hierdie soort dienste vir ons mense te belê nie.

“Ons het al voorvalle gehad waar mense seergekry het – ouer mense. Van die trappe is só erg verweer dat mense maar nou self relings vir hul eie veiligheid moes oprig,” het hy tydens Paarl Post se besoek gesê.

Gouws meen die Drakenstein-munisipaliteit is oor die algemeen nie voorbereid vir rampe van ’n tragiese aard nie.

“Dit is al in die verlede baie duidelik gemaak. Honderde mense sal alles in ’n strukturele brand verloor. Hulle is dan nie eens voorbereid om ons mense te help nie.

“In hierdie geval is inwoners se veiligheid weer ter sprake. Hierdie trappe kan enige oomblik meegee. Dit is ’n tragedie wat wag om te gebeur.”

Gouws is van mening dat die “politieke onstabiliteit” in Drakenstein een van die redes is hoekom die munisipaliteit traag is met hierdie soort dienste. “Ons sit hier met senior amptenare wat vir wanadministrasie ondersoek word. Die munisipaliteit is konstant besig om sy eie reputasie te beskerm – só besig dat hy nie by dienslewering, veral in hierdie gemeenskappe, uitkom nie.”

Inwoners meen ’n gebrek aan instandhouding het tot die verwering van die trappe gelei.Foto: Rasaad Adams

Die munisipaliteit het by navraag aan Paarl Post gesê hy is inderdaad verantwoordelik vir die instandhouding van hierdie eenhede.

Louis Pienaar, die munisipaliteit se uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, het gesê die munisipaliteit werk aan die proses om sy algehele instandhoudingstrategie by hierdie soort behuising op te dateer.

“Ons het begin deur verlede jaar die interne bewaarder van instandhouding en huurvoorraad te verander. Die volgende stap is om die beskikbaarheid van materiaal en gepaardgaande gebruik van interne instandhouding- spanne te hersien.”

Hy het inwoners verseker dat die munisipaliteit ook kyk na die wyse waarop werk geprioritiseer word asook die algemene gehalte van werk wat verrig word.

“Nog ’n gebied waarop ons ook graag sal fokus, is spesiale projekte wat verband hou met regulasies vir die vermindering van asbes, strukturele stabiliteit van trappe en dakke en algemene-toestand-bepalings.

“Ons wil inwoners verseker dat hierdie spesifieke eenhede veilig is,” het hy aangevoer.

Volgens Pienaar sal die munisipaliteit poog om ’n bykomende toelae vir die instandhouding van maatskaplike behuising te verseker, in ooreenstemming met die menslike- nedersetting- en maatskaplike- behuisingsmandaat.

Hy sê verskeie inisiatiewe is reeds aan die gang om die doeltreffendheid van instandhouding by hierdie eenhede in die toekoms te verbeter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article