Inwoners in Paarl-Oos is ongelukkig oor uitgrawings vir veselinternet wat oop gelos is terwyl die werk gestaak is.Foto: Rasaad Adams


Die nuus oor veselinternet wat in verskeie woonbuurte in Paarl-Oos aangebring gaan word, het inwoners in die wolke gehad, maar ongelukkigheid het ontstaan toe die werk skielik tot stilstand gekom het en uitgrawings in die straat net so oop gelos is.

Paarl Post het klagtes van inwoners ontvang waar die maatskappy Octotel, wat glo vir die aanbring van die veselinternet verantwoordelik is en druk besig was om te werk, net skielik opgehou het daarmee. “Die probleem is nie soseer dat hulle nou vir ’n paar weke nie besig is om die vesel te lê nie. Die probleem is die feit dat uitgrawings, veral dwars oor die straat, net so oop gelos is. Ons as motoriste was die hele tyd geduldig terwyl hulle gewerk het, maar toe die werk nou nie tot ’n punt kom nie, het ons ’n bietjie krapperig geraak, want die uitgrawings kan groot skade aan ons voertuie veroorsaak en wie gaan dan verantwoordelikheid neem hiervoor? Hier is ’n enorme uitgrawing in Conradstraat, maar dis nie al straat wat geraak word nie,” sê ’n inwoner wat verkies om anoniem te bly.

Paarl Post het sowat drie weke gelede berig oor die veselinternet wat in Paarl-Oos aangebring word.

Louis Pienaar, Drakenstein se uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, het toe bevestig die maatskappy het op 22 Julie begin werk.

Hy het dit ook in sy aanvanklike terugvoer duidelik gemaak dat die kontrakteur moet voldoen aan alle wetlike verpligtinge rakende beroepsgesondheid, beroepsveiligheid en bouregulasies.

Betreffende die ongelukkigheid oor die uitgrawings wat net so gelos is, sê Pienaar: “Die betrokke kontrakteur en kliënt het ’n dispuut gehad, wat daartoe gelei het dat geen konstruksiewerk tussen 26 en 28 Augustus plaasgevind het nie. Die dispuut is op 28 Augustus tussen die kontrakteur en die kliënt afgehandel en die konstruksiewerk kon op 29 Augustus voortgesit word.

“Die Drakenstein-munisipaliteit het op 30 Augustus aan die kontrakteur instruksies gegee om alle uitgrawings wat paaie kruis, met gruismateriaal op te vul.”

You need to be Logged In to leave a comment.