Fase 5 van beurtkrag duur voort tot ten minste Saterdagoggend (24 September) en daar word gevrees dat die aangaande kragkrisis druk op munisipaliteite se waterlewering kan plaas en wateronderbrekings mag meebring.
Eskom het in ’n mediaverklaring gister laat weet dat beurtkrag sal nog tot môre om 05:00 op fase 5 bly. Hulle sal wel later vandag weer ’n volledige verklaring uitreik oor wat vir die res van die naweek en volgende week wag.
Die Wes-Kaapse regering het vandeesweek ’n beroep op alle munisipaliteite en inwoners in die provinsie gedoen om onmiddellik water en krag te bespaar.
Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het gesê as die hoë vlakke van beurtkrag aanhou, sal alle munisipaliteite binnekort geraak word.
Hoewel die meeste dorpe vir 48 uur waterreserwes berg, het Bredell benadruk dat die pompe nie al die reserwes in die beskikbare tyd tussen beurtkrag kan aanvul nie.
Rioolwerke is ook grootliks ontwerp om met ’n deurlopende vloei van water te werk en beurtkrag vergroot die risiko van verstoppings en skade.
Lae watervlakke in die reservoirs veroorsaak ook lae waterdruk of selfs geen water in hoogliggende buurte nie en dra by tot die gevaar dat pype kan bars.
Breedevallei-munisipaliteit het reeds vroeër die week vir inwoners van De Doorns gewaarsku dat die voorsiening van drink water gister (Donderdag 22 September) geraak gaan word as gevolg van fase 5-beurtkrag.
Volgens Bredell kan dit Eskom ruimte gee om die uitdagings wat hy onmiddellik teëkom aan te pak as die inwoners gehoor gee aan die oproep om krag en water te bespaar.
Hy het gesê die provinsiale regering staan munisipaliteite by met voorbereiding en toerusting om noodsaaklike dienste te kan lewer. Alle munisipaliteite het ook gebeurlikheidsplanne.
Ook die Premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, het ’n beroep op munisipaliteite gedoen om seker te maak hul gebeurlikheidsplanne vir beurtkrag is gereed.
Hy het benadruk hoewel beurtkrag ’n nasionale probleem is, voel die provinsiale regering ook die impak op sy inkomste en in die skade aan die ekonomie en werkskepping.
Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het vandeesweek in ’n onderhoud met Bloomberg voorspel dat die situasie in die komende dae ietwat kan verbeter en dat die land se elektrisiteitsverskaffing sal op mediumtermyn aanhou verbeter namate nuwe beleggings opwekking bevorder, het hy aangevoer.


