So lyk die oewer van die Spruitrivier, wat nie altyd van die strate af sigbaar is nie, maar ’n werklikheid vir oewereienaars is.Foto: Konstant Ferreira


Die volhoubaarheid van strategieë om wanorde oor die Spruitrivier te bekamp, laat veel te wense weens voortslepende klagtes oor bosslapers, besoedeling en vertraagde wetstoepassing.

Aan die oewer van die rivier in Wellington woon talle moedelose huiseienaars soos Konstant Ferreira van Pentzstraat. In ’n brief aan Drakenstein-munisipaliteit (DM) het hy die maatskaplike, sosiale en veiligheidskwessies een vir een uitgewys.

“Ek vra dat daar asseblief iets volhoubaar gedoen moet word om dié groeiende probleem finaal hok te slaan,” lui Ferreira se pleidooi. Bosslapers en besoedeling

Ferreira skets ’n skokkende prentjie oor die soort gedrag en nalatenskappe wat sogenaamde bosslapers en skollies na die oewer van die rivier bring.

“Daar word vuurgemaak, gedrink, lawaai gemaak, ontlas en bemors en dit alles lok rotte en veroorsaak waterbesoedeling. Verskeie klagtes word by wetstoepassing, wat soms reageer en soms nie, aangemeld.”

Maar soms, meen Ferreira, word wetstoepassing se reaksies op klagtes as “negatief” bestempel aangesien hierdie tonele nie van die straat af sigbaar is nie.

“Wetstoepassers sien nie die toestande so diep in die oewer raak nie. Ek moes al saam met beamptes by die kollege se grond, tot by heining, instap om te wys waar hulle sit.

“Ek kan ook net op die brug stop, ’n flitslig skyn, en sê ‘negatief’.”

Hy let ook daarop dat vroulike wetstoepassers tydens nagtelike ure alleen uitgestuur word om klagtes op te volg. “Daar kan mos nie van vroue alleen verwag word om mense uit die rivier te verwyder nie.”

Kabeldiefstal

Ferreira beweer dat daar tydens ’n beurtkragfase in Julie ’n verlengde kragonderbreking weens vermoedelike kabeldiefstal was.

“Die ligte het omstreeks 22:00 aangekom en dadelik weer afgegaan. Tegelykertyd het ’n oorverdowende knal afgegaan en vonke het die donkerte verhelder.

“Ek het toe die na-ure-nommer van die krag-afdeling geskakel. ’n Elektrisiën is ontbied en die krag het later aangekom.”

Hy vertel dat gerugte van kabeldiefstal die ronde gedoen het.

“Dit is duidelik dat DM dadelik die toegang tot die rivier moet uitsorteer. Buiten die jare lange probleme het dit duidelik geword dat kabeldiewe ook begin intrek neem, wat mettertyd vir DM ook groot skade gaan berokken.”

Wat tot Ferreira se frustrasies bydra, is die feit dat inwoners in die omgewing al menige keer deur die skollies bedreig is.

“Daar is al gesê ‘ons kom maak jou vrek in jou huis. Dis ons rivier, ons land . . . gaan terug Europa toe.” Vroulike studente wat in ’n woonstel op die perseel woon, is ook al aan bosslapers wat hulself ontklee en hul privaatdele rondswaai, blootgestel.

“Dit is nie meer snaaks nie!”

DM se wetstoepassing

Paarl Post het navrae gerig oor vernuwende strategieë om Spruitrivier en Wellington se toenemende misdaad te bekamp. Ernest Saayman, die waar­nemende uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, sê DM is deeglik bewus van die uitdagings rakende die Spruitrivier en haweloses wat hulle daar huisves.

“Dit is waarom ons wetstoepassings­afdeling elke weeksdag en gereeld oor naweke patrollies hier uitvoer en die haweloses verwyder.

“Maandelikse veiligheidsoperasies word ook by Spruitrivier, Kerkstraat en die parke in die omgewing uitgevoer, en in dié verband werk ons saam met ons Drakenstein Smart Safety Network (DSSN)-vennote.

“Hierdie patrollies en operasies sal voortgaan.”

Saayman sê dat DM vennootskappe met verskillende veiligheidsrolspelers gesluit het om veiligheid in Drakenstein te bevorder en ’n veiliger omgewing te skep. Dit vorm deel van die DSSN, waarvan plaaslike buurtwagte een van dié vennote is.

“Om ons buurtwagte te ondersteun en te bemagtig, het DM op 20 Julie tweerigtingradio’s aan 16 buurtwagte en een plaaswag in Wellington uitgedeel. Op 2 Augustus, sal nóg tweerigting-radio’s aan 11 Paarlse buurtwagte uitgedeel word.

“Die munisipaliteit se ingenieurs­dienste-departement het ook ’n heining by die Spruitrivier aangebring, wat deursigtig is juis om sig op die rivier te vergemaklik.”

Die heining loop egter deur onder vandalisering deur mense wat steeds dié riviergebied wil binnegaan, meen Saayman, hoewel die munisipaliteit deurlopend instandhouding op dié heining uitvoer.

Ten slotte het Saayman die kabel­diefstal-voorval bevestig.

“Die voorval het gedurende die nag van Sondag 17 Julie plaasgevind en die beraamde skade is ongeveer R40 000.” ­. Time and time again, the Spruitrivier in Wellington is a source of concern due to homeless dwellers squatting, drinking, defecating and polluting on the banks of this natural resource. The same culprits have also threatened residents and exposed genitalia to young female students residing in the area. Drakenstein Municipality says they are initiating increasing safety and security measures on Spruitrivier, in addition to equipping law enforcement and neighbourhood watches with two-way radios.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 4 December 2025
    Paarl Post – E-edition – 4 December 2025

Gift this article