Drie weke nadat inwoners van die informele nedersetting in Paarl-Suid hierdie gedeelte van Paarl ure lank gevange gehou het weens onrus, dreig inwoners steeds met soortgelyke toekomstige aksie.

Hierdie gebied by die aansluiting van die R101 (Klapmutspad) en R45 (Simondiumpad) is deesdae ’n kernpad in die Paarl wat toegang bied aan talle na die N1, Paarl asook die nuwe sakekerns in Paarl- Suid.

Die onlangse protesaksie was omrede die Brickfields-gemeenskap ontevrede is dat die elektriese toevoer na informele wonings hier nog nie herstel is nie nadat ’n brand maande gelede hier by ’n kragboks ontstaan het.

Die Drakenstein-munisipaliteit het in die 2018-’19-boekjaar die Brickfields- informele nedersetting in Simondium van elektrisiteitsinfrastruktuur voorsien.

Altesame 143 aansluitings is teen die einde van die 2019-’20-boekjaar voltooi.

In Desember verlede jaar het ’n brand ’n groot deel van hierdie elektriese infrastruktuur beskadig, en die munisipaliteit het beraam dit sal meer as R1,5 miljoen kos om te herstel.

David Delaney, waarnemende direkteur: beplanning en ontwikkeling, by die munisipaliteit, het gesê die nasionale regering se beleid vir die toekenning van finansiering vir die elektrifisering van informele gebiede bepaal gebiede wat reeds hieruit voordeel getrek het, mag nie weer finansiering kry nie, maar dit moet eerder gaan na gebiede wat nog glad nie hierby baat gevind het nie.

“Die munisipaliteit het dan ook besluit om nie ons jaarlikse elektrifiseringsbegroting vir herstelwerk in Brickfields aan te wend waar elektrifisering reeds plaasgevind het nie, maar om voort te gaan met nuwe elektrifiseringsprojekte, soos vooraf beplan, en om te hou by ons jaarprogram soos vroeër gekommunikeer aan woonbuurte wat geoormerk is vir elektrifisering.”

Delaney het gesê die elektrifiseringsprogram is reeds in Januarie en Maart vanjaar aan die betrokke leiers en gemeenskap van Brickfields gekommunikeer.

“Dit sou onbillik wees om weer Brickfields te diens, veral omdat Desember se brand waarskynlik begin is deur mense wat onwettig koper gesmelt en / of dwelms gerook het.

“Die munisipaliteit het wel die mense wat deur die brand geaffekteer is van nuwe basiese strukture voorsien.”

Altesame 393 mense woon in die informele nedersetting en 83 strukture het steeds toegang tot elektrisiteits­toevoer.

Brickfields is deels op private grond en deels op munisipale grond en juis omdat die gebied geweldige uitbreiding toon, wat ’n goeie ekonomiese inspuiting vir Drakenstein kan wees, spreek verskeie sakelui hul kommer uit oor hierdie informele nedersetting wat ’n negatiewe impak op die gebied het, nie net weens die dreigende protes nie, maar ook weens misdaad en diefstal.

Delaney het gesê in hierdie stadium is daar geen onmiddellike planne om die inwoners te skuif nie, maar het bygevoeg die munisipaliteit het wel al in gesprek getree met sekere partye wat ’n belang het in die ontwikkeling van die gebied.

“Die munisipaliteit wil dit ook benadruk dat behuising nie die munisipaliteit se verantwoordelikheid is nie.

“Dit is ’n nasionale en provinsiale bevoegdheid, waarvoor die nasionale en provinsiale regerings geld uit die begroting kry; munisipaliteite tree bloot as agente op.”. Three weeks after protest action brought Paarl south to a standstill, concern continues to be expressed over the informal Brickfields settlement.

You need to be Logged In to leave a comment.