Die 52-jarige Johanna Muller van Wellington het twee weke gelede haar huis en al haar besittings in ’n brand verloor, en wag steeds om van die Drakenstein-munisipaliteit te hoor hoe die brand moontlik ontstaan het.
Muller sê sy was in Kaapstad om een van haar seuns by die Valkenberg-hospitaal te besoek toe haar suster haar bel om te sê haar huis het in vlamme uitgebars. Dit was omstreeks 13:30 die betrokke Woensdagmiddag (5 Oktober). Muller, van Flounderstraat in New Rest, vermoed iemand het moontlik haar huis opsetlik aan die brand gesteek.
“Toe ek by die huis kom, het alles reeds afgebrand. Voordat ek hospitaal toe is, het ek al die kragproppe afgesit. Ek het nie kos in my yskas gehad nie, dus was selfs daardie kragprop ook afgeskakel. Ek vermoed iemand het dalk die huis aan die brand gesteek, want toe ek terugkom, was die kragboks aan die buitekant van die huis teen die muur af.”
Die afgelope twee weke slaap Muller en haar 28-jarige seun, wat saam haar in die huis gewoon het, enige plek waar hulle ’n warme skuiling kan kry. Sy is egter ontsteld omdat die munisipaliteit haar tot nou nog nie gekontak het oor die verslag rakende die brand en hoe dit ontstaan het nie.
Gerald Esau, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur vir gemeenskapdienste, het by navraag gesê: “Die Drakenstein-munisipaliteit se brandweerdienste het om 13:54 op 5 Oktober 2022 ’n oproep rakende dié brand ontvang. Met hul aankoms het hulle ’n struktuur in ligtelaaie gevind. Die brandweerdienste kon spoedig die brand blus en verspreiding voorkom. Die hele struktuur en sy inhoud is in puin gelê. Geen beserings is aangemeld nie. Die oorsaak van die brand is onbekend, en die saak word deur die polisie ondersoek.”. The 52-year-old Johanna Muller from Wellington lost her house and all her belongings in a fire two weeks ago, and is still waiting to hear from Drakenstein municipality how the fire might have started.




