Drakenstein is bekend vir die wêreldklas-sportmanne en -vroue wat hy oplewer, maar talle inwoners van Wellington meen van die sportgeriewe vertel ’n ander storie.
Een van die inwoners wat vroeër die maand ’n laerskoolsportbyeenkoms by die Weltevrede-sportkompleks bygewoon het, sê hy is geskok dat die Drakenstein-munisipaliteit niks daarvan dink dat skole hul sport op ’n veld van só ’n swak gehalte beoefen nie.
“Sekere skole in Wellington gebruik die baan op Weltevrede al ’n geruime tyd, maar die munisipaliteit het nog nooit daaraan gedink om ’n pawiljoen op te rig nie. Die ouers wat hul kinders kom aanmoedig, moet in die warm son sit.”
Hy meen dat geld jaarliks aan die Faure- en Daljosafat-stadion bestee word, maar niks word by Weltevrede-sportkompleks gedoen nie.
Volgens nog ’n inwoner, wat destyds krieket op een van die velde daar gespeel het, het die terrein met die jare erg vervalle geraak.
“Die sportkompleks is ’n hartseer prentjie om te aanskou. Die fasiliteite behoort daar te wees om die jeug te bemagtig om sport te beoefen. Dit behoort ’n plek te wees waar inwoners naweke sport kan gaan kyk, maar die fasiliteit gaan so agteruit,” vertel hy.
’n Sportman wat dikwels daar is, vertel dat die kompleks gereeld onder diefstal deurloop en dat dit die munisipaliteit dan maande vat om die gesteelde goedere te vervang.
Oor moontlike planne vir die opgradering van die Weltevrede-sportkompleks het die munisipaliteit gesê dat hulle eers in 2019-2020 aandag aan die sportkompleks sal gee.
“Die Drakenstein-munisipaliteit se begroting vir 2019-2020 maak voorsiening vir die opgradering van die Weltevrede-sportkompleks. Die versoek vir ’n pawiljoen – hetsy ’n mobiele pawiljoen of ’n pawiljoen van beton – sal dan die hoof gebied word,” het Ernest Saayman, waarnemende uitvoerende direkteur vir gemeenskapsdienste, gereageer.

