D-dag het aangebreek vir die Hoër Jongen­skool Paarl en Paarl Gimnasium met die aanbreek van Interskole, wat sover bekend is as die grootste skoolseunrugbybotsing ter wêreld.

Gimnasium het vanjaar uitsonderlike rugby gespeel en is tans derde op die skolerugbyranglys, terwyl Boishaai in die vyfde plek effens agter is.

Paarl Boys’ High het verlede naweek opgewarm vir die Interskole-wedstryd deur ’n harde 12-3-oorwinning by Boland Landbou te behaal, wat verlede jaar se verstommende 26-22-tuisnederlaag gewreek het.

Paarl Gim het intussen Durbanville die eerste keer sedert 2019 die stryd aangesê en aan die wenkant uitgetree in ’n heel vermaaklike 45-20-oorwinning.

Die groot vraag hierdie week is egter of Boishaai het wat nodig is om ’n kragtige Gimmies-span te ontstel en spogregte in die hoogs bestrede Paarl-derby op te eis.

Hoewel hulle die verliese teen Paul Roos en Grey – wat albei tuis gely is – sal betreur, het hulle 12 oorwinnings deur die loop van die seisoen behaal . . . ’n rekord wat ’n taai 20-19- oorwinning by Affies insluit.

Min spanne kon by hul voorspelers kers vashou. Sodra die pak ’n platform gelê het, het die gevaarlike agterspelers balbesit in punte omgeskep.

Gimmies het vanjaar op vyf geleenthede 40 of meer punte aangeteken.

Hulle het Durbanville Saterdag 45-20 geklop en sal ’n ernstige bedreiging vir die Boishaai-verdediging in die komende derby inhou.

Boishaai was nie vanjaar op hul beste nie, en terwyl die Paarl-derby massief op sy eie is, verteenwoordig dit ook ’n laaste kans op ’n “top-vier”-posisie.

Boishaai het die seisoen met ses agtereenvolgende oorwinnings begin.

Daarna het hulle ’n skokkende 27-30-nederlaag teen Wynberg in Paarl gely en daarna meer uitdagende wedstryde teen Paul Roos, Affies en Grey College verloor.

Hulle het die afgelope weke hul pad teruggeveg deur Bishops, Rondebosch en SACS te klop, en ’n 12-3-oorwinning teen Boland Landbou die afgelope naweek behaal.

As gevolg hiervan het hulle momentum en selfvertroue voor die belangrikste wedstryd van hul seisoen opgebou.

Dit behoort hulle goed te dien, en ten minste te verseker dat die wedstryd in Paarl die hype regverdig.

Gimmies sal as gunstelinge begin, en tog moet die moont­likheid van ’n Boishaai-oorwin­ning – ’n groot opskudding in die konteks van die seisoen – nie uitgesluit word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.