Inskrywings vir die gesogte Diners Club-toekennings, Wynmaker van die Jaar en Jong Wynmaker van die Jaar, het geopen.

Die Wynmaker- en Jong Wynmaker- toekennings fokus op gehalte en die erkenning van uitnemendheid en tel onder die land se mees gesogte en gerespekteerde kompetisies in die wynbedryf.

Hoewel die meeste toekennings in die wynbedryf op wenwyne fokus, vier die Diners Club-toekennings die skeppers van die wenwyne en eer die vaardighede en talente van die wynmakers.

Die pryse word toegeken aan wynmakers wat ’n wyn produseer wat die beoordelingspaneel as die beste in die twee gespesifiseerde afdelings vir die jaarlikse kompetisie beskou.

Vanjaar is die afdeling vir die 44ste Wynmaker van die Jaar-toekenning Chenin Blanc, en rooiwyn is die afdeling vir die 24ste Jong Wynmaker van die Jaar-toekenning.

Soos in vorige jare kan wynmakers vir meer as een inskrywing benoem word.

Hierdie toekennings is oop vir almal in die Suid-Afrikaanse wynbedryf teen geen koste nie, wat alle wynmakers ’n gelyke geleentheid bied.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is Vrydag 30 Augustus.

Diners Club het die Wynmaker van die Jaar-toekenning ingestel om plaaslike wynmakers aan te moedig om die standaard van wyne wat in Suid-Afrika geproduseer word, te verhoog.

Die Jong Wynmaker van die Jaar-toekenning is gestig om wynmakers onder die ouderdom van 30 aan te moedig om hul vaardighede te ontwikkel, hul individualiteit uit te druk en by te dra tot die toekomstige aansien van Suid-Afrikaanse wyne op internasionale vlak.

Die finaliste en wenners sal Saterdag 23 November by ’n galadinee aangekondig word.

Die Wynmaker van die Jaar en die Jong Wynmaker van die Jaar ontvang albei ’n geldprys en die geleentheid om enige wynproduserende streek in die wêreld te besoek.

. Besoek www.dinersclub.co.za/news-events/winemaker-of-the-year/ vir meer inligting oor die kompetisie en om in te skryf.

You need to be Logged In to leave a comment.