Die Mbekweni-polisie het ‘n beroep gedoen op enigiemand met inligting om na vore te kom nadat die lyk van ‘n man, vermoedelik iets in die twintig, Maandag (20 Oktober) op die Bo-Dal-pad naby Newton gevind is.
Die man het steekwonde aan sy liggaam gehad, het sers. Wesley Twigg, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, by navraag gesê.
“Polisiebeamptes is omstreeks 07:10 na die misdaadtoneel ontbied waar hulle die slagoffer met steekwonde aan sy liggaam aangetref het.
“Die slagoffer is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar.
“Die motief vir en omstandighede rondom die voorval word ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie,” sê Twigg.
Volgens Twigg het die Mbekweni-polisie ‘n moordsaak geopen.
- Enigeen met inligting word versoek om die polisie se Stopmisdaad-nommer, 08600 10111, te skakel.





