Die Drakenstein-munisipaliteit hou vol dat hy nie sy munisipale hof in die Paarl as ‘n “inkomste-stroom” gebruik deur stewige boetes vir verkeersoortredings en die oortreding van munisipale wetgewing uit te reik nie.
Dr. Johan Leibbrandt, die stadsbestuurder, het op ‘n onlangse raadsvergadering gesê dit is ook belangrik vir inwoners om te verstaan dat die eintlike inkomste vir die munisipaliteit minder is, aangesien ‘n bedrag van betaalde boetes na ‘n diensverskaffer gaan.
Leibbrandt het gereageer op ‘n skriftelike vraag deur Keagen Gerste, die GOOD-party se hoofsweep, waarin hy wou weet of ‘n “aktiewe veldtog” aan die gang is om verkeersboetes as versekerde inkomste-stroom vir die munisipaliteit te gebruik.

Paarl Post het verlede maand berig dat dié hof sedert sy totstandkoming in Desember 2022 altesaam 17 402 sake aangehoor en oor die afgelope finansiële termyn bykans R17 miljoen aan “inkomste” vir die munisipaliteit ingevorder het.
Die inkomste word toegeskryf aan boetes wat uitgereik is vir verkeersoortredings en die oortreding van munisipale regulasies.
Vir die 17 402 sake wat oor die afgelope twee jaar op die rol geplaas is, is 14 077 lasbriewe uitgereik. Dit kan egter beteken dat slegs 3 325 sake oor hierdie tydperk suksesvol deur die hof afgehandel is.
Volgens Leibbrandt slaag die munisipaliteit daarin om gemiddeld slegs 10% van alle verkeersboetes in te vorder.
“Hierdie is ‘n relatiewe lae syfer. Ons moet jaarliks vir skuldherstel voorsiening maak vir die bedrae wat nie ingevorder word nie.
“Dit is ‘n normale boekhou- proses.
“Ons jag nie boetes nie. Daar is spoedkameras op verskeie plekke. Die publiek word glad nie daardeur verras nie.
“Ons moet egter hierdie suksessyfer van 10% verhoog aangesien ‘n diensverskaffer kommisie kry. Die eintlike inkomste vir die munisipaliteit is dus baie laer,” het Leibbrandt verduidelik.
“Hierdie inkomste betaal nie eens die salarisse van ons verkeersbeamptes nie.”
Leibbrandt het verder die belangrikheid van die munisipale hof in die hantering van sulke plaaslike
oortredings verduidelik.
“Wanneer sulke oortredings in ‘n ander hof aangehoor word, word dit gewoonlik as onbenullig beskou en uitgegooi.”
Hy het toe vlugtig aangedui dat die munisipaliteit nuwe regulasies oorweeg wat sal vereis dat motoriste met uitstaande boetes voortaan nie toegelaat sal word om hul voertuiglisensies te hernu alvorens uitstaande boetes betaal is nie.
Munisipale howe hoor spesifiek sake aan wat met die oortreding van munisipale wetgewing verband hou, soos verkeersoortredings, die skending van bouregulasies en ander munisipale regulasies.
Dit is daarop gemik om die las op ander howe te verminder.
Geen strafregtelike aangeleenthede verskyn in hierdie hof nie.
You must be logged in to post a comment.