’n Woonbuurt in Paarl sit tans en broei van woede oor ’n tradisionele inisiasie-feesviering wat oor die loop van drie dae in ’n stil woonbuurt hier gaan plaasvind.
Gister, slegs twee dae voor die begin van die seremonie, het inwoners kennisgewings in hul posbusse ontvang vanaf ’n inwoner van Treurnichtstraat in Vrykyk dat die straat tussen die Bergrivier Boulevard en Buitekantstraat toegemaak gaan word vir die doeleinde van die inisiasie-feesvieringe. Ook dat daar vanaf die Paarl-polisiekantoor ’n inisiasieproses bestaande uit dansers en stokvegters tot by Treurnichtstraat sal verloop.
Hierdie seremonie gaan plaasvind ná die tradisionele besnydenis en man-word rituele van ’n jong Xhosa man.’n Kraal sal ook by die woning in Treurnichstraat opgerig word vir verdere seremoniale gebeurtenisse.
Verder word daar in die omsendbrief beweer dat inwoners in die saak geken is en dat die direkte bure in en om Treurnichtstraat hul toestemming verleen het vir die driedaagse seremonie.Inwoners hier sê egter dat hulle glad nie toestemming hieraan verleen het nie en wil ook nie hê dat die gebied in ’n sirkus omskep word nie.
Die kennisgewings vanaf die pa van die inisiant, Majoor-Generaal Mzwandile Tiyo, voormalige stasiebevelvoerder van Paarl-polisiestasie en voormalige intelligensiehoof van Wes-Kaap polisie beweer ook dat daar verlof vanaf die Drakenstein-munisipaliteit hiervoor verleen is.
Maar by navrae gister aan Paarl-polisie en die Drakenstein-munisipaliteit oor die nodige toestemmings vir so ’n optog en funksie byna in die middedorp van Paarl, het nie een van hierdie instansies toe al kennis gedra hieroor nie.
Verder is inwoners omgekrap ook oor gerugte dat daar op tradisionele wyse ’n dier op die perseel geslag sal word.
Gerald Esau, uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste by Drakenstein-munisipaliteit het by navraag hieroor gesê dat hy persoonlik besoek afgelê het by die woning in Vrykyk en het samesprekinge met Tiyo hieroor gevoer.
Volgens hom gaan alle tradisionele rituele elders sal plaasvind, waarna die jongman vanaf die polisiestasie te voet na Treurnichtstraat sal beweeg en onderweg deur die ouer garde verwelkom sal word.
“Die seremonie in Treurnichtstraat gaan slegs ’n verwelkomingspartytjie wees met kosse en iets te drinke.”
Esau kon egter nog nie bevestig of die pad wel gesluit gaan word hiervoor nie asook hoeveel mense die byeenkoms gaan bywoon nie.
“Die inwoners van die huis moet wel alle by-wette nakom ingevolge rusverstoring. die hoeveelheid mense toegelaat op so ’n erf en des meer.”
Pogings om Generaal-Majoor Tiyo hieroor te kontak was onsuksesvol, hy het nie oproepe of boodskappe beantwoord op twee selfoonnommers wat Paarl Post vir hom het nie.

