Die toneel by die Paarlse Voortrekkerterrein se saal toe die watersak wat deur die helikopter vervoer was, deur die dak geval het. Foto: Verskaf


’n 42-jarige man is die afgelope Sondag (1 Desember) in hegtenis geneem vir beweerde brandstigting, wat tot die naweek se brand op Paarlberg gelei het.

Die brand het Saterdag (30 November) omstreeks 12:00 agter die Voortrekkerterrein in Kloofstraat uitgebreek en chaos gesaai namate dit op die lae hange van Paarlberg gewoed en verskeie huise bedreig het.

Die brand is uiteindelik Sondagaand omstreeks 17:30 onder bedwang gebring.

Volgens ’n verklaring deur die Paarl-polisie is Rudolf Coxam deur lede van die Drakenstein-munisipaliteit (DM) se brandweerdiens in hegtenis geneem “vir die onwettige aansteek van ’n vuur in die Paarlberg, wat tot skade aan die fauna en flora gelei het”.

j

’n Helikopter word deur die rook gewaar. Foto: Francois Malan

Die verdagte is aangekla ingevolge die veld- en bosbrande-wet, en het die afgelope Dinsdag (3 Desember) vlugtig in die Paarl-landdroshof verskyn.

Coxam sal in aanhouding bly totdat hy op 10 Desember weer in die hof verskyn, luidens die verklaring.

In nog ’n wending het ’n sak water wat deur ’n helikopter vervoer is om die brand te blus, per ongeluk op die dak van die Paarlse Voortrekkerterrein se saal beland.

Volgens Danie Brandsen, die terreinbestuurder van die Voortrekkerterrein, was hy omstreeks 12:15 op die perseel nadat hy oor die brand ingelig is.

Hy het die terrein besoek om die hek oop te sluit indien nooddienste die perseel moes betree om die brand te bestry. Kort ná sy aankoms daar het hy die eerste helikopters van Leading Edge Aviation gewaar, wat groot sakke water vervoer het om die vlamme mee te probeer blus.

Die volgende oomblik het een van dié sakke egter deur ’n gedeelte van die Voortrekkerterrein se dak geploeg en ’n paar dakplate is beskadig.

j

Die toneel by die Paarlse Voortrekkerterrein se saal toe die watersak wat deur die helikopter vervoer was, deur die dak geval het. Foto: Verskaf

Brandsen verduidelik dat die binnekant van die saal nie veel skade gely het nie en dat slegs een dakplaat beskadig is. Die afdak bo die saal se stoep is met ’n groot gat daarin gelaat.

Die skade kon wel baie erger gewees het as die sak nog vol water was, sê Brandsen.

Die skade van dié ongeluk sal volgens hom die Voortrekkerterrein ongeveer R10 000 kos.

Die Paarl Post verneem ook vertroulik dat twee huise in Groenvlei se dakke en waterpype brandskade opgedoen het. Hierdie inligting is vandag (6 Desember) ontvang nadat die koerant reeds gister op die rakke verskyn het.

Mark Jackson, die eienaar van Leading Edge Aviation wat drie van die vier helikopters gevlieg het wat ontplooi is, sê die voorval was ’n ongeluk.

Dit is moontlik deur erge turbulensie aangehelp.

Hy sê sy span het die watersak ná die ongeluk beveilig en die brand vir die res van die dag, tot sonsondergang, suksesvol bestry.

o

’n Brandbestryder veg teen die vlamme. Foto’s: Francois Malan

Volgens Jackson het elke watersak ’n kapasiteit van 2 500F, met die drie helikopters wat altesaam 289 vragte water oor die naweek aangery het.

Dit kom neer op 722 500F water.

Volgens hom kos dit sowat R40 000 per uur om ’n helikopter in hierdie toestande in die lug te hou.

Hy sê voorts die Paarlse Voortrekkerterrein sal vir die skade vergoed word.

Die derde helikopter wat Leading Edge Aviation gevlieg het, bekend as die Black Hawk, is vir twee ure deur die Winelands Fire Protection Association geborg en volgens Jackson deur sowat vyf versekerings­maatskappye betaal.

Hy het gesê hierdie was gratis bystand wat deur die versekeringsmaatskappye moontlik gemaak is en het brandbestryders “baie gehelp”.

Die brand het volgens ’n woordvoerder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM), Jo-Anne Otto, ’n gebied van “ongeveer 123 ha ouer, gemengde plantegroei” afgebrand.

Volgens Daan van Leeuwen Boomkamp, bevelvoerder van Drakenstein Plaaswag (DFW), ’n organisasie sonder winsbejag en wat twee brandweerwaens tydens die naweek se brand ontplooi het, is hulle deur inwoners na die Le Joubert-landgoed ontbied, waar twee huise baie naby aan die vuurlyn was.

Volgens hom was die vlamme 20 m van die twee huise af, maar is suksesvol geblus, sonder enige skade wat aangemeld is.

Van Leeuwen Boomkamp sê hulle moes die landgoed se grensmuur deurgaans patrolleer om te keer dat die vlamme moontlik nader aan die huise kruip.

Hy het sy ontevredenheid uitgespreek dat die DFW nie deur die KWDM of die Drakenstein-munisipaliteit (DM) ontplooi is nie, en op private noodoproepe reageer het.

Volgens Darren Herbst van Paarl Trails, wat ook ’n hand in die organisering van die Absa Cape Epic het, is geen skade aangemeld aan die roetes van die fietstoer wat van 16 tot 23 Maart gehou sal word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.