Bome aan die hange van die Paarlberg in Lemoenkloof i1s afgesaag. Foto: Verskaf


’n Groot aantal indringerbome is sedert Junie reeds deur die Drakenstein-munisipaliteit aan die voet van die Paarlberg in Lemoenkloof verwyder.

Inwoners van huise wat aan die berg grens het dit aanskou en vasgevang op foto’s wat wys hoe honderde afgekapte bome op die grond lê.

Wat inwoners egter bekommer, is die feit dat die bome lank in die veld sal lê voordat dit verwyder word, wat dan tot brande in die somermaande bydra; ook dat die verwydering hiervan nou tot grootskaalse gronderosie kan lei.

Paarl Post het by die munisipaliteit gaan aanklop om te hoor presies wat behels die verwydering van dié bome, en hoe gereeld dit plaasvind.

“Die verwydering van uitheemse plantegroei, wat indringerbome insluit, vorm ’n noodsaaklike deel van Drakenstein-munisipaliteit se omgewingsbestuurswerk om jaarliks indringerplantegroei op Paarlberg te beheer,” sê Eda Barnard, die munisipaliteit se waarnemende uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste.

Volgens Barnard het die munisipaliteit se werkers reeds in Maart met die verwydering van die bome begin en van 24 tot 28 Junie na Lemoenkloof beweeg.

“Die bestuur en verwydering van indringerplante word deur wetgewing beheer. Twee wette moet in hierdie ruimte oorweeg word, naamlik die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne 43 van 1983 (Cara) en die Nasionale Omgewingsbestuur: Wet op Biodiversiteit 10 van 2004 (Nemba).”

Volgens Barnard word programme al die afgelope 15 jaar van stapel gestuur om die hoeveelheid indringerbome op die Paarlberg te beheer.

Barnard het ook per e-pos verduidelik dat die verwydering van die bome brandgevare verlaag, maar inwoners maan egter dat die afgekapte bome wat nie opgetel word nie dié stelling teëwerk en steeds brande kan veroorsaak indien dit nie opgetel word nie.

Paarl Post het die munisipaliteit gevra wanneer die bome verwyder gaan word, waarop Barnard geantwoord het:

“Die verwydering van die bome wat bereikbaar is, sal in die volgende fase van die projek plaasvind. Afgesaagde bome wat bereikbaar is, sal wel verwyder word.”

“Die steil helling en rotsagtige gebied bemoeilik soms die verwydering van die afgesaagde bome, wat dan effe langer neem.”

“Indringerbome gebruik ook baie meer water as ons inheemse fynbos, terwyl dit ook verskeie parasiete en biologiese beheeragente huisves, wat na private eiendomme aangrensend tot Paarlberg kan versprei.”

“Voorkeur word in sommige gevalle aan sekere gebiede gegee, soos die Jan Phillips-bergpad, wat in die 2023-’24-boekjaar ’n prioriteit was.”

Die gedeelte bo Lemoenkloof het meestal indringerbome soos groot dennebome en populierbome gehad.

In die kloof en bo die Jan Philips-bergpad is meestal Port Jackson-, stink bean (stinkboon)- en lantanabome afgesaag, het Barnard gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.