Die ingang na die Exotic Animal World in Klapmuts. Foto: Jana Scheepers


Twee werknemers van Exotic Animal World in Klapmuts het die afgelope Sondagaand ’n benoude ervaring gehad tydens ’n inbraak en poging tot roof toe ’n manlike verdagte die sentrum binnegegaan het terwyl dié twee werknemers nog op die perseel was.

Volgens Erica de Villiers, ’n woordvoerder van die Klapmuts-plaaswag, het die voorval kort ná 19:00 plaasgevind, waarna sy om 19:30 van die gebeure in kennis gestel is.

Hierdie inligting is ook deur die Klapmuts-polisie bevestig.

Volgens De Villiers is die plaaswag nie gevra om die toneel te besoek nie omdat die Klapmuts-polisie, saam met ADT, asook ’n tweede sekuriteitsmaatskappy, reeds op die toneel was nadat die alarm sonder die inbreker se wete afgegaan het en die sekuriteit reeds op pad was.

De Villiers verduidelik dat die rower skynbaar ook nie bewus was van die feit dat twee werknemers van die sentrum tydens die inbraak in ’n aparte gebou, die Care Centre, was nie.

Die rower is gevolglik onkant betrap toe die nooddienste, onder meer die polisie, op die perseel opgedaag het.

Ná die polisie en sekuriteitsmaatskappy se aankoms is die rower in die kombuis van die sentrum se restaurant, Café Lemur, vasgetrek, waar hy besig was om vleis uit die ys- en vrieskaste te pak, waarskynlik om te steel.

Hy is op heterdaad betrap en deur veiligheidsdienste omring.

Dit was die afloop van gebeure volgens Esther van der Westhuizen, die stigter en besturende direkteur van Exotic Animal World.

Hy [die inbreker] het ook ’n Monster-koeldrank gedrink en ’n sny rooi fluweelkoek en ’n klein pasteitjie geëet.
Esther van der Westhuizen, stigter en besturende direkteur van Exotic Animal World

“Hy [die inbreker] het ook ’n Monster-koeldrank gedrink en ’n sny rooi fluweelkoek en ’n klein pasteitjie geëet,” sê Van der Westhuizen.

Sy verduidelik dat die inbreker nie eers ’n draai by die houer met footjies vir werknemers op die toonbank by die ingang gemaak het nie, maar, “reguit kombuis toe” is.

Volgens haar het die inbreker die voordeur na die sentrum, wat aan die R44 grens, stukkend geskop.

Die polisie asook beide De Villiers en Van der Westhuizen sê geen beserings is deur die twee werknemers aangemeld nie.

Die verdagte bly tans in aanhouding.

Volgens Van der Westhuizen is al die diere, wat oor die 700 strek, veilig en nie gedurende die inbraak geteiken of beseer nie.

Sy het laggend aan die Paarl Post vertel sy glo die sentrum word nie gereeld deur rowers geteiken nie weens die “slange en spinnekoppe” wat ook daar gehuisves word.

Volgens haar is ’n vorige inbraak by die sentrum in 2020 aangemeld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article