Miljoene rand se beleggings is in minder as ’n jaar gemaak om te verseker dat die Suid-Afrikaanse wyn-ikoon Simonsvlei, vroeër jare ’n toonvenster en een van die pasaangeërs van die Kaapse Wynlande, weer ’n voorste leefstyl-bestemming van die Kaapse Wynroete word.
Behalwe dat Simonsvlei se fasade en omliggende geboue vernuwe of herbou is, pronk die reuse-wynbottel (’n bekende landmerk langs die N1-snelweg) met ’n “splinternuwe oesjaar”, wapper ’n reuse-landsvlag aan ’n massiewe vlagpaal langs ’n nuut herboude dam by die kelder, en is ’n omvattende reeks van nuwe Simonsvlei-handelsmerke ook pas bekendgestel.
Ook die restaurant is herbou en daar is klem gelê op die vele wenresepte van vroeër en om hulle te behou, asook die uitsonderlike buffet-ete op ’n Sondagmiddag.
Die nuwe restaurant, Ons, het ten doel om die nostalgie van vervloë dae te laat herlewe deur steeds iets uitsonderlik vir die hele familie te wees, deur gourmet-disse vir die fynproewer te bied, maar steeds iets vir die hele gesin.
“Ons fokus is steeds om ’n gesinsbestemming te wees, maar daar sal altyd ook ’n verrassingselement op die spyskaart wees, soos byvoorbeeld die skaapstertjies en slaphakskeentjies,” sê Willem Cillié, hoofbestuurder en -sjef van Ons.
Jacques Fourie, besturende direkteur van Simonsvlei, sê hy is tevrede met die vordering wat in só ’n kort tydjie gemaak is.
“Om te dink dat Simonsvlei ’n ruk gelede (in die Covid 19-tyd) in sakeredding was en dat so ’n uitsonderlike handelsmerk en bestemming se voortbestaan in gedrang was. Dit maak ons trots op wat in ’n relatiewe kort tydperk bereik is.
“Ons glo almal kan sien dat –hoewel ons reeds groot uitbreidings en vernuwings gedoen het, maar nog projekte sal afhandel (soos die bou van ’n moderne proelokaal) en nou ’n werklik omvattende handelsmerk-aanbieding bekend gestel het – ons ook getrou bly aan die stigtingsmotief van 1945, naamlik om kwaliteitswyn teen bekostigbare pryse aan te bied wat die verbruiker blootstel aan net die beste geure van die Kaapse wynlande.”
Die nuwe eienaars van Simonsvlei, ’n Europese konsortium met sterk Suid-Afrikaanse bande, het nou reeds – in die “eerste fase” van Simonsvlei se herrysing – sowat R40 miljoen bestee.
Verdere fases – soos die nuwe proelokaal – sal ook binnekort ’n aanvang neem.
Die nuwe restaurant, ontspanningsomgewing, ’n delikatesse (wat eg Bolandse tuisgebak en varsprodukte van die omgewing sal verkoop), ’n plaasmark asook ’n leefstyl-gebied rondom die bestaande dam (wat ’n drywende verhoog vir orkeste het), het verskeie aanbiedings, waaronder Karoo Craft Brewery.
Dit het alles ten doel om ’n leefstyl-aanbieding vir verskeie smaak-voorkeure te wees.
Daar is ook ’n spesiale speelruimte vir kinders.
“Ons bly ’n gesinsbestemming, met iets vir die hele familie.”
Bennie van Rensburg, verkoopsbestuurder van Simonsvlei, sê hy is trots daarop dat die nuwe handelsmerk-reeks, spesifiek die Groot Ses-etikette (wat benewens die Groot Vyf-wilde diere ook Tafelberg insluit), reeds groot aftrek kry.
Dit is algemeen bekend dat Simonsvlei sedert 2019 in sakeredding was.
Fourie sê met die belegging deur die nuwe eienaars is die proses van sakeredding beëindig en alle krediteure is (met rente) betaal.
Die moontlikheid dat die groter gebied in kleiner en uiteenlopende besighede en eenhede verkoop sou word, is daarmee ook gestuit.
“Ons fokus is om Simonsvlei as sterk wynhandelsmerk en leefstyl-bestemming onder een dak uit te bou.
“Ons fokus sal op die Simonsvlei-handelsmerk en die uitbouing daarvan wees, maar ons weet ook watter krag daar in sterk vennootskappe of samewerking onder een dak is,” sê Fourie.


