En daar gooi Eskom weer ’n vloermoer dié week en skakel die ligte af.

In alle waarskynlikheid gaan hierdie week se beurtkrag net die begin van ure lange beurtkrag wees wat deur hierdie winter gaan duur, waarsku die kundiges.

Dit is geen nuwe nuus dat die eens magtige kragreus nou in ’n magtelose dwergie omgeskep is nie. Al jare lank gaan dié semistaatsinstansie gebuk onder wanbestuur, korrupte besluitnemings, kundige werknemers wat al skaarser word, interne sabotasie en bedrog – die lys gaan aan.

Hierdie onbeholpenheid van Eskom dwing die land keer op keer op sy knieë weens beurtkrag.

Tot onlangs het die regering bankvas agter Eskom gestaan en hom as die enigste kragvoorsiener in die land beskou . Almal is gedwing om hul krag by Eskom te koop.

Gelukkig het iemand uiteindelik die lig gesien (seker ’n batterylig) en reeds meer as ’n jaar gelede is die Wes-Kaap die groenlig gegee om sy eie krag deur alternatiewe bronne en verskaffers te verskaf.

Die Stellenbosch-munisipaliteit het verlede week die leiding geneem en verskeie van sy munisipale geboue met sonkrag begin toerus – net die eerste stap in ’n breë projek om minder afhanklik van Eskom te wees, sê die Eikestad.

Hier in die Drakenstein is egter steeds geen teken van soortgelyk projekte om die stad die toekoms in te help nie.

You need to be Logged In to leave a comment.