Suid-Afrika betree tans ’n tydvak van koalisieregerings nadat geen politieke party ’n oorgrote meerderheid in vanjaar se algemene verkiesing ontvang het nie. Een van die hoof- redes hoekom die stemme só verdeel is, is omdat baie van ons kiesers nog op grond van etnisiteit en sosiale omstandighede hul kruisies trek.

Ons sal werklik eendag ’n ernstige gesprek moet voer oor die ongelykheid wat nog in verskeie sfere van ons samelewing heers.

Dít veroorsaak dat mense gemarginaliseerd voel en so is dit maklik vir enige party om hul stem te wen.

Baie kiesers in agtergeblewe gemeenskappe is honger vir verandering. Hulle is honger vir werk. Hulle hou opelugdienste en bid vir veilige woonbuurte – skoon van bendegeweld, diefstal en dwelm- misbruik.

Ons het vanjaar ’n vlaag nuwe (kleiner) partye gehad wat veral maatskaplike kwessies op plaaslike vlak gemelk het in ’n poging om stemme te verower.

Werkloosheid, billike aanstellings, armoede en behuising was van die kwessies wat oor die land heen gebruik is om te reflekteer op die vordering wat die regering van die dag oor die afgelope 30 jaar gemaak het.

Terselfdertyd het hierdie einste (kleiner) partye groot beloftes gemaak, veral in die lig van ’n meer “inklusiewe regering” wat in voeling is met die omstandighede op die grond.

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie – elke party en onafhanklike kandidaat moet dieselfde geleenthede gegun word as groter partye tydens hul veldtogte.

Ek het ook geen probleem met enige nuweling wat hom verkiesbaar stel nie. Inteendeel, ek verwelkom dit, want dis gesond vir ons demokrasie.

Ek kan egter nie help om te moet uitwys dat baie partye hierdie realiteite van veral arm Suid-Afrikaners gebruik het om stemme te werf nie.

Dit, tesame met selfs groter partye soos die ANC (wat homself steeds bestempel as ’n vryheidsbeweging) grens aan identiteitspolitiek, wat ’n aansienlike invloed op die uitslae van hierdie verkiesing gehad het.

Die ANC, wat tradisioneel ’n breë basis van ondersteuning onder swart Suid-Afrikaners het, het steeds sterk daarop staatgemaak om kiesers deur middel van ’n narratief van historiese regstelling en sosiale geregtigheid te mobiliseer.

Die party het klem gelê op die verbetering van lewensomstandighede vir voorheen benadeelde groepe en die voortsetting van beleid soos regstellende aksie en grondhervorming.

Die gemiddelde kieser, wat dus sy kruisie vir die ANC getrek het, is waarskynlik een wat voel dat hierdie party ’n kritieke rol in die stryd teen Apartheid gespeel het.

Die ANC was immers die party wat ná die eerste demokratiese verkiesing van 1994 ’n algehele ommeswaai moes bring in ’n land wat voorheen onderdruk en volgens ras geskei was.

Dit is dus verstaanbaar hoekom daar nog ’n mate van vrees onder sekere Suid-Afrikaners heers om ’n nuwe party die geleentheid te gee om te regeer.

Binne die konteks van die Wes-Kaap kan Gayton McKenzie se Patriotic Alliance (PA) waarskynlik as ’n goeie voorbeeld van identiteits­politiek gebruik word.

Nie net het dié party die provinsiale wetgewers van verskeie provinsies gehaal nie, maar ook vir homself nege setels in die parlement losgeslaan.

McKenzie se hele agenda was daarop gemik om die “bruin agenda” parlement toe te neem.

Hy sal herhaaldelik beklemtoon hoe daar nie genoeg – en in sekere gebiede geen – verteenwoordiging van bruin gemeenskappe in leierskap is nie.

Hy het gery op bruin gemeenskappe se wyse waarop hulle godsdiens gebruik om van hul omstandighede te ontsnap, of vir ’n beter lewe te bid.

Sy veldtogte oor die Wes-Kaap heen was verdoesel as aanbiddingsbyeenkomste – maar intussen is hierdie lokale grasgroen met PA-ondersteuners.

Heindrich Wyngaard van die Kaapse Forum en ’n kykNET-aanbieder het dit so mooi as “pinksterpolitiek”beskryf.

Net soos talle ander partye het McKenzie hierdie byeenkomste gebruik om verandering in bruin gemeenskappe te belowe.

Die PA se vrugte vir sy arbeid is sigbaar in die hoeveelheid setels wat hy provinsiaal en nasionaal losgeslaan het.

Die PA en oudpresident Jacob Zuma se vyf maande oue MK-party het in hierdie verkiesing bewys dat ’n nasionale dialoog gevoer moet word oor hoe sekere gemeenskappe steeds ná 30 jaar van demokrasie gemarginaliseerd voel; hoe hulle vir enige greintjie van ’n belofte vir ’n beter lewe sal val – want hulle is desperaat om aan hul omstandighede te ontsnap.

Die verkiesing het bewys dat mense steeds hul identiteit binne ’n spesifieke party en sy leierskap vind, om dan sodoende van hul omstandighede te ontsnap.

Dit het bewys dat daar selfs met die plaaslike verkiesing oor twee jaar meer belê moet word in die opvoeding van ons kiesers sodat hulle ingeligte besluite kan neem, en dit nie noodwendig bloot grond op historiese omstandighede of gebeurtenisse nie.

Kiesers se besluite moet die werklikheid van Suid-Afrika vandag weerspieël.

Die uitdaging vir Suid-Afrika vorentoe is om maniere te vind om identiteitspolitieke spanning te versoen en ’n meer eenvormige nasionale identiteit te bou en diverse groepe insluit en bevorder.

Dit sal vereis dat politieke leiers en die burgerlike samelewing saamwerk om ’n gemeenskaplike visie van geregtigheid, gelykheid en ekonomiese voorspoed vir almal te bevorder.

You need to be Logged In to leave a comment.