Solank as wat hy verantwoordelik is vir die sake van die Boland-rugbyunie (BRU), gaan die verkoopbordjie nie voor die unie se grootste bate, die Boland-stadion in Wellington, gesien word nie.

Só het Cassie Carstens, die BRU se nuwe uitvoerende hoof, aan Rapport gesê, wat onlangs aangestel is om die unieskip uit die stormwaters van geld­nood te kry. Sy nuwe pos kom met ’n handvol uitdagings, maar vir Carstens is dit presies dit –uitdagings om aan te pak en in suksesse te omskep.

Carstens was tot onlangs nog aan die stuur van die Wildeklawer-toernooi, ’n suksesvolle multisport-skoletoernooi, wat in Kimberley aangebied word.

Hy het egter besluit om die reuse-taak as uitvoerende hoof van die Boland aan te pak omdat hy nie van ’n uitdaging terugdeins nie.

Sy eerste prioriteit is om die stadion­kwessie so vinnig as moontlik op te los.

Die BRU se uitvoerende bestuur het onlangs besluit om die verkoop van die stadion te oorweeg om uit sy geldnood te kom. Daar is egter ook ander moontlikhede.

Carstens self wil nie eens daaraan dink om die stadion te verkoop nie.

“In hierdie stadium hoop ons om nie die stadion te verkoop nie, ons kan nog oorleef sonder om dit te doen,” het Carstens in ’n onderhoud aan Rapport gesê. “Daar is geen rede om dit nou te doen nie. Alles gaan egter afhang van wat oor die volgende drie tot vier maande gebeur.”

Die BRU is bewus dat ’n besluit om sy stadion te verkoop dalk op die kort termyn ’n inspuiting vir sy finansies sal wees, maar op die lange duur sal dit nadelig wees om nie meer die stadion te besit nie.

“Ek kan nie sê wat oor drie of vier of vyf maande gaan gebeur nie. Ons praat egter tans met potensiële borge, met individue. Daar is ook gesprekke met nasionale borge.

“Van die begin af is ek ingelig oor die posisie van Boland. Toe ek my besluit geneem het (om hierheen te kom), was dit ’n deurdagte besluit. Ek was vir ’n onderhoud met bestuurslede en direkteure. Ek het my huiswerk gedoen voordat ek die pos aanvaar het.

“Ek het nie na ’n sinkende skip toe gekom nie, dalk na een in stormwater. Maar oral kry jy stormwaters en jy kom daardeur. Dis nie ’n sinkende skip nie.

“Inteendeel, ek weet waar noord en suid is, en oos en wes. Ons is op pad vorentoe. Die rigting sal ons bepaal soos ons aanbeweeg.”

Hy erken finansies gaan die grootste uitdaging wees en hy weet daar gaan verskeie van dié soort uitdagings op sy pad wees.

Dis egter iets wat Carstens wil omarm en hy bly positief oor Boland-rugby.

“Ons moet harder en slimmer werk om die geleenthede wat daar is te gebruik en nie te misbruik nie.”

Die unie se trotse en ryke geskiedenis in Suid-Afrikaanse rugby het ook ’n rol gespeel in sy besluit om die groot taak te aanvaar.

“Soos met enige ander werk is daar uitdagings en kwessies waaraan ’n mens aandag sal moet gee. Maar die wiel hier is klaar ontwerp, dit sal vir my wees om die skip op koers te hou.

“Daar is moeilike tye in SA rugby, almal weet dit en niemand steek dit weg nie. Dit gaan onder meer oor finansies en die meeste unies ly as gevolg daarvan.

“Ek glo en vertrou die plaaslike on­der­steuners, sakemanne, sakeonderne­mings en die regering sal inkoop in die idees van rugby.

“Dis belangrik dat hulle weet wat hier (in die Boland) aangaan. Daar is soveel kritiek en negatiewe publisiteit die afge­lope tyd wat die ronde doen.

“Maar ek stel nie in politiek belang nie. Ek het nie hierheen gekom om na die verlede van die BRU te kyk nie. My doel is om vorentoe te gaan.” – Rapport

You need to be Logged In to leave a comment.