Nadat Rowelland Williams sy verslawing aan dwelms asook ’n lewe op straat oorkom het, is hy nou vasberade om ander te help wat in die sosiale kwessies vasgevang is waarin hy hom jare gelede bevind het.
Dié Wellingtonner het ’n organisasie, New Beginnings, gestig, wat daarop fokus om mense by te staan om hul dwelmprobleem en haweloosheid te oorkom.
“Ek was vir ses jaar op straat en in dwelms vasgevang – tik, Mandrax en dagga. Ek het my lewe ’n paar jaar gelede verander en die visie gekry dat ek moet terugploeg in my gemeenskap. Die gedagte het by my gekom om ’n organisasie sonder winsoogmerk te stig en ek moet spesialiseer in dit waarin ek vasgevang was,” sê Williams.
“Ek was by die departement van gemeenskapsontwikkeling om my organisasie te registreer. Die eerste keer was daar ’n paar foute en ek moes toe weer teruggaan. Ek het by tye so ’n bietjie moedeloos geraak, want taxigeld was ook ’n probleem. Dis toe die stem by my opkom – ‘glo in jouself’. Ek het weer teruggegaan na die departement en ná ’n paar weke het ek my NPO-nommer gekry. Ek eer die Here hiervoor.”
Williams was net 12 jaar oud toe hy in 2007 met die dwelm tik begin eksperimenteer het. Vir jare het hy gesukkel om die dwelms te los, totdat hy eendag uit die bloute net besluit het tot hier toe en nie verder nie. Hy was vasberade om te herstel en iets te maak van sy lewe. Hy het besluit om te begin deur hoërskool te voltooi. In 2020 het hy die vlak 1- nasionale kwalifikasieraamwerk-eksamen geskryf, wat gelykstaande is aan gr. 9. Hy het die eksamen deur Abet (Adult Basic Education and Training) afgelê.
Sedert die skille van sy oë afgeval en hy besluit het om beheer oor sy lewe te neem, sien Williams daarna uit om die lig aan die ander kant van die tonnel te wees vir diegene wat sukkel om los te kom van dwelmmisbruik en haweloosheid. Williams se wens is dat die gemeenskap saam met hom sal werk om teen die euwel van dwelms te werk en dit in Drakenstein hok te slaan.
. Kontak Rowelland Williams by 063 151 9044 of stuur e-pos aan rowellandwilliams@gmail.com om by New Beginnings betrokke te raak.