’n Jongman is ten spyte van vele uitdagings in sy lewe die geleentheid deur Wings Trust gegee om sy vlerke te sprei. Wings Trust het dit vir hom moontlik gemaak om vanjaar sy studie aan die Universiteit Stellenbosch in sportbestuur te begin. Michael Goodall, ’n inwoner van Huis Andrew Murray-kinderhuis in Wellington, is een van drie jongmense van die Drakenstein-vallei wie se lewensdrome bewaarheid word deur middel van beurse van die Wings Trust. Hierdie trust is die lewensdroom van ’n Nederlandse vrou om die drome van unieke jong mense met toekomsvisie en dryfkrag vlerke te gee. Michael se droom is om eendag ná sy studie as sportonderwyser ook minderbevoorregte kinders af te rig. Hy is onlangs verras met die skenking van ’n splinternuwe fiets. Op kampus het hy gou besef dat hy gaan sukkel om betyds tussen sy praktiese en teoretiese klasse op verskillende uithoeke van Stellenbosch te kom en het dringend ’n fiets benodig. Die Wellingtonse fietswinkel, Adventure Cycles, het hiervan te hore gekom en dadelik plan gemaak. Met die finansiële hulp van Gardier Security Services het hulle tot Michael se redding gekom en nou het die gretige student wiele van sy eie! Foto: