Breyten Breytenbach, die ikoniese Suid-Afrikaanse digter, skrywer, skilder en aktivis, is Sondag by ’n spesiale huldigingsfees by die Breytenbach-sentrum in Wellington vereer.
Die sentrum is ingerig in Grevilleas, die ou losieshuis van Breytenbach se ouers, wat die simboliese tuiskoms verteenwoordig van die digter wat self geskryf het: “ek sal sterf en na my vader gaan / Wellington toe …”
Ongeveer 350 mense, insluitend Breytenbach se vrou, Yolande, hul dogter, Daphnée, skoonseun, Tim, en Breytenbach se kleinkinders het die geleentheid bygewoon.
Breytenbach, wat op 24 November verlede jaar op 85-jarige ouderdom in Parys, Frankryk, oorlede is, is op 3 Desember in die Père-Lachaise-begraafplaas in die Franse hoofstad ter ruste gelê.
Sondag se verrigtinge in Wellingon het ’n kunsuitstalling getiteld #altydbreyten ingesluit, waarvoor 18 kunstenaars werke geskep het wat deur Breytenbach se skryf- en skilderkuns geïnspireer is.
Die Hugenote Hoërskool-koor, van die skool waar Breytenbach sy skoolloopbaan voltooi en as hoofseun gedien het, het opgetree met ’n spesiale toonsetting van sy bekende gedig “ek sal sterf en na my vader gaan”.
Francis Galloway het ’n oorsig gegee van Breytenbach se 60-jaar-loopbaan as Afrikaanse skrywer en intellektueel, terwyl Georges Lory, Breytenbach se Franse vertaler, ’n digterlike huldeblyk gelewer het.
Anne-Ghrett Erasmus het persoonlike herinneringe gedeel en Breytenbach se dogter, Daphnée, het ’n surrealistiese vertelling oor haar pa se begrafnis aangebied.
Die aand is afgesluit met voorlesings van Breytenbach se gedigte deur die digter en akademikus Antjie Krog, terwyl Laurinda Hofmeyr sommige van sy getoonsette gedigte gesing het, bygestaan deur die bekende baskitaarspeler Schalk Joubert.
Ná ’n visuele eerbetoon is die program afgesluit met Anna Davel se vertolking van “Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif.”