Die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) herdenk sy bande met die ontslape Afrikaanse skrywer Elsa Joubert, veral bekend vir haar werk as die skrywer van Die Swerfjare van Poppie Nongena.
Joubert was ’n Paarliet in murg en been en het haar grootwordjare in Nantesstraat deurgebring waar sy en haar familie gewoon het.
Sy was ’n leerder aan die Hoërskool La Rochelle.
Hoewel sy voor haar dood ’n inwoner van die Bergsig-aftreeoord in Kaapstad was, het sy gereeld terugverwys na haar grootwoorddorp, onder meer in haar boek, Wonderlike Geweld.
Paarl Post het in 2018 ’n onderhoud met haar gevoer waarin sy vertel het dat sy nog gereeld terugdink aan haar jong dae in dié Bolandse dorp “vol rabbedoes, vrugte steel en toktokkie speel”.
Een van haar bekendste boeke, Die Swerfjare van Poppie Nongena, is tydens die hoogtepunt van Apartheid gepubliseer toe bitter min ooit deur ’n wit Afrikaanse skrywer oor die lewe van die swart sektor van die samelewing geskryf is.
UWK onthou en vier die skrywer op haar verjaardag op 19 Oktober, wat in 2020 op 97-jarige ouderdom tydens die Covid-19-pandemie weens die virus oorlede is.
Sy sou vanjaar 101 jaar oud geword het.
Joubert se seun, Nico Steytler, ’n emeritusprofessor aan die UWK, is die afgelope 33 jaar ’n personeellid en vervul verskeie rolle in UWK se fakulteit regsgeleerdheid en by die Dullah Omar Instituut.
“Sy het die UWK en dit waarvoor dit staan, gerespekteer,” het Steytler gesê.
Om haar verbintenis tot die instelling te demonstreer, het Joubert ná haar dood ’n aansienlike bedrag in haar testament nagelaat vir studente aan UWK wat uitblink en graag ’n honneursgraad in Afrikaans wil volg.
Sy het ’n lang verhouding met die universiteit gehad. In die jare sewentig het sy lesings in die departement Afrikaans en Nederlands aangebied op uitnodiging van haar vriend, Jakes Gerwel, wat toe ’n dosent in die departement was.
Steytler het gesê: “My ma was ’n groot patriot vir Afrikaans. Sy was ’n warm, innemende mens en ’n goeie luisteraar wat altyd in ander mense belang gestel het. Sy het die idee gehad om nooit in ’n geslote wêreld te lewe nie.
“Haar boek Spertyd is die laaste boek wat sy geskryf het. Die boek het gesentreer rondom haar lewe in die ouetehuis waar sy gewoon het.
“Oorkant die pad was ’n hospitaal waarheen inwoners sou gaan wanneer hulle uiters siek en verswak word.
“Die boek eindig met haar oorstap na die hospitaal en haar gedagtes om nooit terug te keer nie.”